Hierdie luukse beskuit is uniek en gaan verseker vir spesiale gaste ‘n groot bederf wees…en natuurlik die perfekte geskenkie!
Eers bietjie agtergrond oor die resep. Ek is van nature iemand wat hou van snoeperye ipv ontbyt en groot etes. So ek het altyd ʼn volgraan gesondheids stafie of stukkie beskuit in my sak as ek opreis is en of die kinders by die skool kry. My mikpunt was juis dit…om ʼn growwe beskuit te ontwikkel so ʼn kombinasie van ʼn stafie en ʼn beskuit se bestanddele is. Ek wil dit in ʼn stafie kan bak maar ook ʼn mooi ronde bolletjie. Ek wil dit pak met energie om dit ʼn vokome ete te maak..amper soos ʼn “smoothie-on-the-go”. Ek het baksels aan die Filistyne gevoer totdat ek by hierdie wonderlike, heilsame resep uit gekom het.
Ek wil ʼn stappie verder gaan en dan die bestanddele bespreek want elkeen het ʼn doel en veral vir ons kinders en die wat vir lang tye moet konsentreer is daar Breinkos in gebou in elke happie!
1. Steengemaalde meel: tans poog ek om organies te leef en dus verkies ek steengemaalde, gmo vrye en bleik middel vrye meel. Jy kan kommersiele mele bekom vir die bak projek..dit is jou persoonlike keuse.
2. Semels en Psyllium husks: beide hierdie vesels dien as ongelooflike belangrike substanse in die happie. Semels is water onoplosbaar en dien soos klein besempies wat cholesterol bind en te veel suiker in die verteringskanaal en dit uit die liggaam neem…wonderlik ne! Psyllium husk is ʼn wonderlike item op jou inkopielysie en ʼn groot moet. Goed, een woord van waarskuwing, dit help hardlywigheid tee werk, maar as jy te veel gebruik mag dit weer nie goeie gevolge he. Hou dus by die voorskrif in resepte. Goed, hierdie vesel is water oplosbaar en is deel van prebiotika. Dit bevat betaglucans en pytho nutriente wat ongelooflike goeie voordele vir ons inhou tov antioksidante werking en vryeradikale teen werk. Lees gerus verder daaroor op.
3. Bokomo all bran flakes: ek verkies hierdie want die beskuit se doelwit is juis GROF. Saam met die gerolde hawermout ʼn wen kombinasie. Onthou daar is ʼn verskil tussen gewone hawermout en gerol…lees fyn.
4. Die Saadmengsel en neute dra by tot omega’s wat weer hande vat met die pre biotika wat ek in gewerk het.
5. Tuisgemaakte klapper en gedroogde vrugte mengsel: Koop vir eens in jou lewe ʼn klapper en kap dit oop met ʼn hammer oor die boepensie..sal link van video insit. Haal die klapper uit en rasper dit baie grof of sny met ʼn mandolien in repe. Hoe growwer hoe beter. Ek droog vrugte soos persimon, kiwi, appel, peer, pynappel deur dit in dun 3mm skyfies te sny, dompel in koue suurlemoen water om verbruining te voorkom en dan in die oond by 70C te droog of in ʼn dehydrator by 35C vir so 6 ure. Ek meng die vruggies of hou net by een soort…maar dit maak interessante beskuit! Vir hierdie resep het ek 1 appel, 1 persimon, ½ pynappel gedroog en toe kleiner gebreek nadat dit gedroog is vir die beskuit. Jy kan egter goed soos koekvrugte of rosyne in die plek vervang.
6. Neute of saad botters: hierdie is super ryk aan omega’s, minerale elemente en antioksidante asook proteine om die bloedsuikervlakke langer hoog te hou. Ek maak met my Bamix my eie botters en met groot sukses. Jy kan wel koop oop.
7. Versoeters: ek verkies te alle tye treacle suiker (molasse suiker) en heuning. Beide is voedsaam al is die carb count hoog. Molassa suiker en ook heuning het mikrobes wat goed is vir ons verteringstelsels…so gebruik dit groot asb. Maak jou eie treacle suiker met molasse stroop (veral die black strap molasse is gepak met goedheid). Jy kan 1 kg witsuiker neem en dan so 4-5 e molasse stroop byvoeg en dan met ʼn klister goed deur meng om aan te klam. Hou die ekstra suiker in ʼn lugdigte houer om nie hard te word. As dit sou hard word, sit vir ʼn uur of wat ʼn halwe appel met die gesnyde kant na bo bo op die suiker. Bedek weer goed. Die suiker sal sag word…dit geld ook vir gekoopte molasse suiker.
8. Karringmelk/Amasi/Plain joghurt: Jy kan enige van die drie gebruik wat oor jou pad kom, ek is maar ʼn suurmelk Amasi vrou. Ek glo aan die goedheid van goeie mikrobes…
420 g (3 k) koekmeel
420 g (3 k) whole wheat of bruinbrood meel
60 g (1 k) semels (bran)
15 ml (1 e) psyllium husks
200 g all bran flakes of hi fibre bran
1 k gerolde hawermout
80 g growwe klapper stukke
80 g fyn dessicated klapper (indien jy nie growwe klapper wil maak of te koop kry…voeg die gewig by en weeg 160 g fyn klapper af.
1 appel, 1 persimon, halwe pynappel stukkies gedroog en gebreek in duim nael grootte stukke
200 g gemengde sade (pampoen saad, roulyn, sonneblom)
250 g pekans of enige gebreekte neute
200 g treacle suiker
200 g heuning
300 g botter of bakkersmargarien 80% vetinhoud
150 g grondbone botter of neute botter van keuse
2 ekstra groot eiers
800 g karringmelk/amasi/gewone joghurt, nie dubbel dik anders kom die mengsel te droog uit…glo my ek het dit probeer!
15 ml koeksoda
15 ml bakpoeier
15 ml kremetart
15 ml kaneel of speculaas kruie
5 ml sout
10 ml vanilla geursel
Voor verhit oond na 170C en smeer ʼn groot swart oondpan goed uit met pansmeer of voer uit met ʼn Teflon vel. Hou eenkant.
Sif koekmeel, sout, kaneel, bakpoeier, koeksoda, kremetart saam. Voeg hierby die res van die droe bestanddele. Meng goed deur.
Smelt die botter/margarien maar nie kook. Voeg dan die karringmelk, heuning, grondbone/neute botter by en roer goed deur. Voeg dan die eiers by en klits goed.
Maak ʼn holte in die middel van die meel mengsel en voeg die vog by, meng per hand die mengsel goed deur maar MOENIE dit knie nie. Die mengsel moet net by mekaar kom…
Bolletjies vorming: ek vind dat hierdie hele mengsel in ʼn oondpan pas. Neem ʼn standaard roomys skeppertjie (weeg ongeveer 70 g per bolletjie) en meet die bolletjies so af. Neem met nat hande en vorm die bolletjies rond en daarna in ʼn effense eiertjie om langwerpig op te staan. Onthou asb dat die bolletjies anders bak as die plat panne se vingers. Hulle rys minder in bolletjies, so maak seker dat as jy dit in ʼn oond pan plaas, die bolletjies amper gelyk met die rand is…jy kan die pan ook so effens tilt sodat die rolletjies mooi in pas. Hierdie beskuit bak vir presies 75 minute! Moenie haastig wees.
Plat beskuit panne: Druk die beslag in die pan en sny vooraf vingers. Bak vir 35 tot 40 minute.
Alle beskuit moet eers KOUD wees voordat dit gesny kan word. Vir die bolletjies neem ʼn vurk en breek dit op om dit mooi netjies te kan skei ipv sny.
Droog beskuit vir 6 ure by 90C met die oond deur op ʼn skrefie oop. Onthou ook as jou oond deur af gaan as dit oop is en die oond wil nie werk. Fnuik die knoppie heel onder deur net ʼn stukkie karton in foelie toe te draak of selfs ʼn hout wasgoed penntjie af te breek en daar teenaan te sit om die knoppie in te hou. Hoop dit maak sin.
Droog in gasoonde soos my LaGermania: plaas die driptray heel onder in die laagste rak. Draai die knop tot op die laagste verstelling vir hitte en dan skuif die droog rakkie to heel bo. Plaas die drogings plaat in die deur om die deur oop te hou en die hitte van die knoppe weg te lei. Droog vir 4-5 ure.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2023
Hoeveelheid: 30-50 stukkies beskuit afhangend van vormings opsies. Geniet!
My plat pan is 45 x 34 cm en maak 72 stukkies.
Sal die mengsel daarin pas of moet ek dit 2 keer bak?
Renata,
Een maal se aanmaak sal jou pan vol maak.
Groete
Annelien