kan seisoen het aangebreek en hoekom nie heerlike karamel blokkies maak nie? Die brosbrood koekie basis word bedek met ‘n karamel pekan laag wat jou beloon met ‘n “salted caramel” happie en wel, sny maar die blokkies kleiner want dit is baie soet maar verslawend lekker!

Koekie basis
245 g koekmeel
100 g wit suiker
170 g botter / 80% vet bakkers margarien, koud, blokkie gesny
Knippie sout

Brei ‘n pan van 22 cm x 33 cm voor deur dit met ‘n silikoon vel uit te voer. Hou eenkant.

Sif die meel en sout saam. Voeg die suiker by die mengsel en neem ‘n draad klitser (whisk) en meng alles goed deur.

Voeg die botter by en vryf dit met jou vingerpunte in die meel by. Indien jy ‘n voedsel verwerker het, meng vir 2 min maksimum totdat die deeg een bol word.

Druk die deeg in die voorbereide pan en maak seker dat die deeg netjies en plat is. Jy kan ‘n glas of ‘n bottel met reguit kante gebruik om in ‘n pan te rol indien jy nie ‘n kort roller het nie.

Hou die deeg bedek in die vrieskas vir ‘n uur. Bak die koekie basis vir 20 minute, sodra die kante begin bruin word, haal uit en giet die vulsel oor en bak weer vir 170C vir 45-60 minute.

Onthou die vulsel moet op die warm basis gaan. Die basis moenie afkoel.

Vulsel
2/3 koppie treacle suiker in die koppie gedruk
65 g koekmeel
4 ekstra large eiers
15 ml vanielje geursel
¼ t kaneel
knippie gemmer
Knippie nutmeg
Knippie witpeper
1 ml sout
1 ½ k goue stroop
200 g (2 k) grof gekapte pekans

Meng eers die suiker en die meel saam om klonte te voorkom. Hou pekans eenkant.

Voeg die res van die bestanddele by die meel en met ‘n draad klitser meng totdat die mengsel mooi glad is.

NB: jy moenie hierdie stap oorslaan nie anders gaan die lagies nie jellierig en sag wees. LAAT DIE VULSEL SE MENGSEL VIR 20 MINUTE STAAN! Maak seker as die deeg by die 40 min merk gerus het…jy die vulsel maak en laat staan totdat die basis klaar gebak het. Die staan is nodig om die stysel in die meel te laat hidreer en ‘n meer glansende jellie laag te lewer.

Giet die mengsel oor die basis en sprinkel neute oor en met die agterkant van ‘n lepel druk die pekans liggies onder die vloeistof in. Dit sal weer na bo dryf, hierdie aksie sal die stukkies net so bietjie bedek om mooi te karamelliseer.

Sou jy die neute wel by die stroop mengsel in gooi, giet dit redelik oneweredig…my ma se resep werk so, maar…dan krap jy vir ‘n vale alles gelyk. So ek doen dit anders om. Beide kante toe werk dit…ek hou van kortpad!

Sodra die pan uit die oond kom. Koel by kamertemperatuur af en DAN moet dit goed bedek word en OORNAG stol in die yskas. DAARNA kan jy die blokkies soos volg sny:

Sny met ‘n super skerp groente messie eers deur die neute laag, nie dwars deur. Hoekom? Die neute sal tot onder deur druk en dan die koekie breek as jy dit uit haal. So sny eers deur die eerste lagie van die neute en dan ‘n tweede keer deur die hele storie. Daarna lig die koekies uit die pan. Jy kan ook die basis eers uit haal en dan sny…jou keuse wat werk die beste vir jou opset.

Jy kan in ‘n pyrex bak of ‘n metaal pan bak. Bak tyd word nie beïnvloed. Ek voel wel dat die koekie basis beter en brosser bak as jy in glas of keramiek bak.

Lekker bak en kom spog op die FB blad Boerekos met ‘n Twist en… onthou jy kan jou eie treacle suiker maak deur:
1 kg witsuiker te meng met 3-4 e strap molasse wat jy by die gesondheid afdeling van apteke en supermarkte vind.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 2003

Hoeveelheid word bepaal van hoe groot of klein jy sny!