Ou brood? Moenie kommer ek het ‘n heerlike slim plan vir jou! Onlangs het ons gaan kamp en daar was oorskiet roosterkoek en niemand wil by dag twee nog van dit eet. So wat maak mamma? Sny alles in klein stukkies, week in melk en room en voila…en daar was ook murgpampoentjies en sampioene wat begin verdag lyk. Hoe kan ek die smaak van hierdie gereg beskryf? Dit is romering, sag en geurig. Die groente by hierdie gereg is heerlik en jy kan paar ander groente Twists ook doen soos ek later in die resep sal aandui. Ek was regtig aangenaam verras met die eindresultaat en beste nog, die resep werk ook heerlik in jou lugbraaier.
Ek wil tog uitwys dat hierdie resep baie beter werk met ou tuisgemaakte brood soos ciabatta, roosterkoek en ook stukke vetkoek. Winkel brood sny nie lekker in repies nie, die kommersiele soorte brode. So as jy Suurdeeg brode in die hande kan kry sal dit ook heerlik werk.
Wenk: vries hierdie ongebak vir later! Hierdie gereg is heerlik saam met Visbraai en ‘n bykos vir braai oor die algemeen. Verder maak dit in klein ramekins vir ‘n oulike en unieke voorgereg!
500 g brood blokkies vooraf opgesny
250 ml melk
250 ml room
250 ml klapper room (jy kan hier met melk vervang, maar glo my, dit is heerlik!) Kan ook met roommielies vervang word, ‘n volle blikkie
1 k cheddar of sterk smaak kaas
1 k murgpampoentjies gerasper en ingedruk in koppie (Onthou jy kan hier ENIGE groente van 1 k se mate byvoeg.)
1 t knoffel fyn gedruk
2 e gedroogde origanum
1 t gerookte paprika
½ k uitgebraaide spek, nie te droog gebraai, maak basies net gaar
4 eiers
Sout en peper na smaak
Meng die brood stukkies met die melk, room en klapper room. Week vir 30 minute.
Meng daarna die res van die bestanddele by. Skep in vooraf gesmeerde glas of keramiek bak…die gereg bak net soveel mooier en sagter as in ‘n metaal oppervlak.
Bak by 180C vir 45 tot 60 minute.
Hoeveelheid: 6-8 porsies
Bron: www.annelienpienaar.co.za 2022 deur Annelien Pienaar