Hierdie koek se vrug van keuse kan enige bessie soort wees. Tans kon ek my hande op ‘n mooi houertjie kersies slaan en mooi towerkunsies uit voer.

Koek basis
3 eiers
150 g witsuiker
140 g koekmeel
10 ml bakpoeier
Knippie sout
250 ml volroom melk
50 g botter of bakkersmargarien of sonneblom olie

Voorverhit oond na 180 C. Smeer een koekpan van 20 cm deurnit (rond of vierkantig).

Klits eiers en suiker tot lig en romerig vir 5 minute. Kook solank die melk met die botter in mikrogolf oond.

Sif die droe bestaanddele saam en vou liggies met ‘n draadklitser by die eiermengsel in met die warm melk om die beurt.

Skep in gesmeerde pan en bak vir 25 minute tot gaar. Laat koek goed afkoel. Ontvorm en plaas in yskas tot later benodig.
Sny dan nadat verkoel in die helfte.

Nougat vulsel
115 g (1 k) botter of bakkersmargarien van 80% vet inhoud
115 g roomkaas
50 g strooisuiker
15 ml gelatien poeier
100 ml koue water
15 ml vanielje geursel of karamel geursel (rooswater ook ‘n lekker opsie)
10 ml vars suurlemoensap
5 ml vars suurlemoen skil (zest)
1 blikkie kondensmelk
1 k vars bessies of glans kersies
½ k pekans of neute van keuse

Hidreer die gelatien deur dit oor die water te sprinkel en vir 10 minute te laat. Daarna smelt die gelatien deur die houer in warm kookwater te plaas. Roer totdat die mengsel glad is soos stroop.

Klits die botter en strooisuiker tot romering. Voeg die gesmelte gelatien in ‘n baie dun straaltjie by die klitsende mengsel en dan die roomkaas. Aan die einde skraap die bakkie uit en skraap ook die kante van die mengbak af. Klits tot donsig en lig. Voeg ‘n knippie sout, geursel en kleursel (indien verkies) by en hou aan met klits.

Dit is belangrik om die hele tyd te klits sodat die mengsel nie stol. Voeg nou laaste die kondensmelk by en klits dan deeglik.

Vou dan die vrugte en neute by en haal die gesnyde koek uit die yskas.

Gebruik dieselfde pan waarin die koek gebak is om die koek in te vorm. Voer die pan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kos sproei of alternatiewelik, kleefplastiek werk net so goed. Dit sal jou help om die koek baie maklik uit die pan te haal as die mengsel gestol het.

Skep die helte van die nougat vulsel op die bodem van die pan (hierdie gaan die bokant van die koek wees as dit ontvorm word. Maag gelyk met die agterkant van ‘n lepel. Sit n laag koek op en skep die laaste van die vulsel op. Maak gelyk en druk die ander helfte van die koek op. Vou mooi toe en vries die koek of verkoel oornag. Ontvorm die koek en rond af met versierings van keuse.

Ek gaan die Pekan droompies in die Boerekos met ‘n Twist kookboek maak en dan stukkies fudge in vou in die plek van pekans en so droog. Dit gaan op gebreek word om as versiering saam met vars kersies te dien.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar Desember 2019
Hoeveelheid: 6-8 porsies