Hierdie broodjie bestaan al etlike jare en hier is my oorlede moeder se weergawe. Na jare se studies in Suurdeeg het hierdie tegniek van die gebruik van gis, meel, water en sout neer gekom op die Italianers se biga styl brode wat hulle volhoubaar gebak het. So iewers vermoed ek het ‘n Italianer jare der jare gelede hier ‘n vinger in die deeg gehad!

Kom ons dink gou aan die geskiedenis en die ouderdom van die plantjie wat uit ons geskiedenis ontstaan het. In die ou dae het hulle nie koringmeel gehad wat soos ons sin vandag met Peroksiede en Bromate witter gekleur word en ook om vinniger te droog. Nee, die oumense het van Boermeel of ongesifte meel gepraat, volkoringmeel. So….as jy die beste brood wil bak, hou dan by ‘n steengemaalde meel asb.

Kom ons spring aan die gang!

Dag 1
2.5 ml (1/2 t) brouersgis (beste smaak) anders bakkers gis of kitsgis
30 ml (2 e) lou water (water wat so warm soos jou lyf is)

Sprinkel die gis oor die water en laat eers hidreer voor jy roer vir so 5 min. Voeg dan hierby:

15 ml (1 e) wit suiker
2.5 ml (1/2 t) ongejodeerde sout (gejodeerde sout sal die plantjie dood maak wat jy probeer groei)
140 g (1 k) steengemaalde koekmeel
250 ml (1 k) lou warm melk of melk by kamertemperatuur

Klits alles saam en bedek met kleefplastiek en vergeet van hierdie bak vir ongeveer 2 dae. Die bak verkieslik ‘n plastiekbak omdat dit nie so maklik warm of koud kan raak soos ‘n glas of enamel bak, moet dan sommer in ‘n kombersie toegemaak word om die temperatuur te beheer. As jy ‘n Wonderbag het…wonderlik!

Op dag 3 en 4 roer jy die spulletjie goed deur, bedek en bêre weer.

Op dag 5 voer jy die plantjie weer:
140 g (1 k) steen gemaalde koekmeel
200 g (1 k) wit suiker
250 ml (1 k) melk by kamertemperatuur

Meng alles saam en rus weer vir 9 dae en roer dan elke dag. Op dag 10 voed jy weer soos volg om dan uit te deel aan vriende:

140 g (1 k) steen gemaalde koekmeel
200 g (1 k) wit suiker
250 ml (1 k) melk by kamertemperatuur

Van hier af gaan jy altyd jou plantjie voer met hierdie ratio (140 g (1 k) steen gemaalde koekmeel, 200 g (1 k) wit suiker, 250 ml (1 k) melk by kamertemperatuur), maar hou ingedagte dat hierdie plantjie ten minste ‘n ½ koppie tot 1 k vol moet wees voor jy voer. So oppas om te min plantjie oor te hou.
Bak ‘n geurige vrugte broodjie
280 g (2 k) koekmeel
2.5 ml (1/2 t) kaneel
200 g (1 k) suiker
2.5 ml (1/2 t) bakpoeier
½ t sout
4 large eiers
200ml kookolie
10 ml (2 t) vanilla essens
10 ml (2 t) koeksoda met ¼ k melk aangemaak
250 ml (1 k) plantjie

Voorverhit oond na 160C. Berei ‘n piesangbrood pannetjie voor OF muffin pan.

Sif al die droë bestanddele saam. Maak ‘n holte in die meel. Meng al die vloeistof bestanddele saam en giet in die meel holte. Klits tot glad.

Voeg volgens jou eie keuse die volgende bestanddele by. Jy het ten minste 2 k se bestanddele nodig so jy kan heerlik meng en pas om die twee koppies op te maak. Hierdie bestanddele is egter opsioneel en as jy dit nie wil gebruik sal dit nie ‘n groot krisis wees op die eindresultaat.

100 g(1k) gekapte neute
1 k rosyntjies
1 k sultanas
1 k vrugtekoekmengsel
1 k klapper
1 k gerasperde wortel
5 ryp fyngemaakte piesangs
1 k gekapte appels
1 k dadels
1 k muesli

Voeg die bestanddele by, skep in gesmeerde pannetjie. Bak vir 65 minute by 160 C.

WENK: om ‘n suurdeeg brood te bak met hierdie plantjie loer in die Boerekos met ‘n Twist kookboek Hoofstuk 4 na die Suurdeeg dossering. Vir elke 1 kg meel wat jy ‘n brood mee wil bak het jy 200g van hierdie plantjie nodig om dit te laat rys!

Lewer: 1 piesangbrood en 12 muffins. Die beslag vir ‘n piesangbrood pan mag dalk net te veel wees. Vul die pan ongeveer ¾ vol.

Bron: Annelien Pienaar