Bonbons of Bombolini is perfekte ronde Italiaanse “doughnuts” of te wel Olie bolle in die Afrikaanse taal. Die bolletjies word per hand in ronde bolletjies gevorm en nie met ‘n ronde koekie drukker uit gedruk. So, bietjie meer werk met die wonderlikste belonging in elke happie. Kom ons begin bak aan die Dekadente Italiaanse Bon-Bons met ‘n Glanslaag:

Deeg vir Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • 260 g volroom melk
  • 10 ml kits gis
  • 2 medium eier
  • 1 eiergeel
  • 1 e suurlemoen zest (nie lemmetjie, dit is bitter)
  • 30 ml witsuiker
  • ¼ t sout
  • 560 g koekmeel
  • 45 ml botter
  • 750 ml sonneblom olie vir diepvet braai

Nota: hoe langer die deeg in die eerste fase rys hoe fyner is die tekstuur! So moenie haastig wees met die eerste rys fase.

Metode vir Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • Sprinkel die kitsgis oor die lou warm melk. Lou warm is so warm soos die binnekant van jou bo arm! Los vir 5 min om op te los en roer dan eers. As jy dadelik roer maak jy een groot KLONT! Roer dan goed deur en sodra opgelos is dit gereed om te gebruik.
  • In ʼn mengbak sif al die droë bestanddele saam. Maak ʼn holte in die meel en voeg die res van die bestanddele by en knie dan die deeg totdat dit glad is vir 5 minute. Bedek die deeg met kleefplastiek en rus vir 15 minute. Gaan terug en knie dan finaal goed deur tot mooi glad vir 5 minute. Daarna laat die deeg dubbel sy volume rys. Ek wil nie ʼn tyd hier gee want sou dit winter tyd wees wat jy die resep doen gaan 60 minute te min wees. Dus, hou die deeg dop totdat dit vol uit gerys het. Jy kan die deeg ook toets deur dit met jou vinger te steek en as dit af blaas soos ʼn ballon is dit gereed vir die volgende stap.
  • Begin met die Vla vulsel terwyl die deeg rys.
  • Knie die deeg dan af. Deel die deeg dan in 24 ewe groot stukkies. Hou die deeg met kleefplastiek op ʼn skinkbord bedek soos jy werk. Die deeg droog maklik uit. Vir die vorming van die balletjies mag daar GEEN ekstra meel gebruik word. Jy sal voel die deeg is effens klewerig, dit moet so wees. Dit sal ook help met die vorming van die balletjies. Loer na die volgende skakel oor hoe om op twee maniere die bolletjies te vorm. Vorming van bolletjies Instagram APFC
  • Plaas elke bolletjie so 3 vingers ver uit mekaar op klein stukkies bakkerspapier vierkante wat geolie is. Jy gaan later as die deeg klaar gerys het, die papiertjie so optel en die deeg met die papier en al in die olie in skuif, haal die papier uit die olie sodra dit los gaan. So kry jy die PERFEKTE ronde balletjie. Dus, hou die deeg balletjies weer bedek en die keer moet jy kennis neem, die deeg moet verdubbel het maar NIE oor rys nie. Ons kyk na so 30 minute. Dan kan jy dit gaarmaak.
  • NB: diep vet braai: ek verkies om ʼn wok te gebruik vir hierdie tipe werk want jy gebruik minder olie en kry meer werk gedoen. Paar reels oor die braai van deeg, ook van toepassing op vetkoeke ens…. olie moet 180 C wees, of as jy nie kan meet. Plaas ʼn stukkie brood in die olie, dit moet af gaan en dadelik op dan is die olie gereed. MOENIE te veel bolletjies op ʼn keer gaarmaak want dit maak laat die olie temperatuur te laag gaan en dan suig dit olie en dan het jy letterlik ʼn olie bol!
  • Skep gaar balletjies uit, dreineer effe op dreineer papier en plaas in die kaneel suiker en skud die bak om die balletjies te bedek.


    Kaneel suiker vir die Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • 2 k strooisuiker
  • 3 e kaneel
  • Meng met mekaar en hou eenkant om warm balletjies mee te bedek.


Vla vulsel vir die Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • 180 ml (1/2k plus 2e) melk
  • 60 ml (4 e) room
  • 50 g (¼ k) wit suiker
  • 45ml (3e) mielieblom
  • 5 ml (1 t) vanielje geursel
  • 3 eiergele (vries die eierwitte vir Pekan droompies in die BKT kookboek)
  • 30 ml (2 e) botter

Vlavulsel vir die Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • Plaas melk, room, suiker, mielieblom in ‘n kastrol en met ‘n draad klitser verhit die mengsel en MOENIE op hou roer nie. Die mengsel brand baie maklik aan. Bly roer en bring die mengsel teen matige hitte tot kookpunt en bly roer tot verdik.
  • Roer die botter by die mengsel en klits die eiergele tot lig en skep ‘n bietjie van die warm vla by en klits goed deur. Hou so aan totdat die helfte van die vla in gemeng is en die eiergele getemper is en nie sal skif. Skep dan al die bestanddele in die kastrol terug en kook tot goed verdik.
  • Skep oor in plat pannetjie, druk kleef plastiek op die vla om vel te voorkom. Laat goed afkoel en verkoel dan in yskas vir ‘n uur of langer. Die vulsel kan lank voor die tyd gemaak word en dan op die dag gebruik word.
  • Klits verkoelde room deur en plaas in ‘n spuitsak met ronde neus en druk gaatjie in die kant van die balletjies en vul met die vulsel.

    Glans laag vir die Dekadente Italiaanse Bon-Bons met Glanslaag

  • Het jy geweet dat as jy melk ipv water in ‘n glans laag gebruik, dit dikker set en ook meer egalig vertoon! Onthou dit gerus as jy melk en water met mekaar wil uit ruil. Elkeen van hierdie het ‘n doel. Indien daar melk allergië is vervang met neuter melk alternatiewe.
  • 360 g versiersuiker
  • 90 ml/g melk
  • ½ t vanielje geursel
  • Kleursel indien verkies

Meng al die bestanddele saam. Plaas die balletjies in mooi houer en drizzle (skuus dit is so ʼn lekker woord) die glans versiersel oor.

Bedien vars. Hierdie is nie lekker die volgende dag. Berei dus vars.

Bron: www.annelienpienaar.co.za vir Pastry 101 deur Annelien Pienaar.
Hoeveelheid: 2 doz 24 balletjies