Ek is baie lief vir skons op alle maniere bedien en ek het hierdie basis resep ontwikkel en daarmee saam ook ‘n eiervrye opsie vir my een Filistyn gedoen. Daar is drie opsies vir hierdie skon resep: sjokolade, blondie of vla. In die Sjokolade weergawe kan jy enige kleur sjokolade nib gebruik, karamel en donker sjokolade vertoon mooi. Vir die Vla weergawe is die karamel nibs heerlik en vir die Blondies, milkybar nibs. Jy kan geur en kleur soos dit jou persoonlike keuse is.

245 g (1 ¾ k) koekmeel
25 g (¼ k) kakao of mielieblom (maizena) (blondies) of vla poeier
50 g (¼ k) bruinsuiker (treacle)
10 ml (2 t) bakpoeier
¼ t sout
115 g (1/2 k) botter, koud maar nie hard gevries, sny in blokkies
125 g (1/2 k) vars room (nie lang lewe)
1 t vanielje geursel
½ k sjokolade nibs

Voor verhit oond na 200C. Berei ‘n bakplaat voor. Hou ‘n ronde houer soos ‘n koekpan van ongeveer 20 cm deursnit eenkant. Ons gaan ‘n netjiese sirkel vorm vir die skons.

Sif saam in ‘n mengbak: koekmeel, kakao, bruinsuiker, bakpoeier en sout. Plaas die bestanddele in ‘n voedsel verwerker en sny die koue botter in blokkies en voeg by, draai die lem totdat die botter so groot soos ertjie korrels is. Indien jy per hand werk, sal jy gou voel vir die grootte. Indien jou hande warm is, stele k voor om met twee tafel messies die botter in die meel in te sny.

Dit is belangrik om die botter so koud moontlik te werk want dan kry jy ‘n mooi krummel en sagte binnekant.

Maak ‘n holte in die meel en voeg die res van die bestanddele behalwe sjokolade by en meng met die voedselverwerker vir kort pulse van 1 min elk tot gemeng, die beslag kan steeds droog vertoon met stukkies meel. As jy per hand meng kan jy die sjokolade dadelik byvoeg want daar is nie ‘n lem wat die sjokolade stukkend sal maak en te fyn.

As jy met voedselverwerker werk, voeg dan die sjokolade by en keer op ‘n oppervlak uit en druk die deeg aan mekaar en knie vir 2 minute om die sjokolade eweredig te versprei.

Vorm ‘n sirkel en druk mooi plat, ongeveer 4 cm dik met hande. Sny dan in skywe van keuse 8-12. Sit elke skyf op ‘n voorbereide bakplaat en bak vir 20-25 min by 180C tot gaar.

Jy kan ook die deeg ook met vormpies uit druk of net in skywe langwerpig of vierkantig vorm.

Versiersel
100 g smeltbare melk sjokolade van ‘n bakkerswinkel NIE eet sjokolade by die lekkergoed afdeling nie asb.
1 e botter
2 e room

Smelt die melk sjokolade in die mikrogolf oond teen 100% krag en net 15 sekondes op ‘n keer. Sjokolade mag nie kook nie. Dit moet STADIG smelt.

Giet oor die afgekoelde Skons. Bedien met room en aarbei konfyt…marmalade en bloukaas…sommer net heerlike geure wat kan pas by jou skeppings. Loer in die BKT kookboek na die sjokolade sous, of selfs die karamelsous by die Engelse toffee poeding…Anders op die webtuiste is ‘n heerlike sjokolade smeer!

Bron: www.annelienpienaar.co.za 2021 deur Annelien Pienaar
Hoeveelheid: 4-6 porsies