Die Melktert kaaskoek is nie iets nuuts in SA geledere nie, en so het elkeen sy eie manier om dit te berei. Die infusie van kaneel in die melk is verseker die groot geheim van die kaaskoek en verskerp net die smaak baie meer. Die koek is subtiel gegeur met kaneel en die ekstra sprinkel kaneel oor die finale kaaskoek vertel vir ons dit is ‘n Melktert Twist. My kliente is gek oor die koek en ek glo jou gaste gaan net so heerlik smul en vra na meer.

Kors
200 g Koekmeel
100 g Koue botter
100 g Strooisuiker
4 Eiergele
¼ t Sout
½ t Vanielje geursel
1 x 20-25 cm ringkoek pan met los bodem

1. Sif die koekmeel, strooisuiker en sout saam, maak ‘n holte in die middel.
2. Rasper koue botter in die koekmeel in en vryf die botter met vinger punte in totdat dit soos brood krummels lyk of kroek soos ek en sit dit in die voedsel verwerker.
3. Voeg die eiers by en druk aan mekaar, knie liggies en laat rus vir 30 minute.
4. Rol die deeg dun uit en voer ‘n vooraf gespuite ringkoekpan met losbodem, uit. Indien daar deeg oor bly, vries vir ‘n volgende projek.

Vulsel
1 houer (230g of 1 k) roomkaas
100g (1 k) witsuiker
2.5 ml bakpoeier
30 ml (2 e) mielieblom
4 eiers, ekstra groot
500 ml (2 k) volroom melk
60 ml (4 e) suurlemoensap
4 kaneel stokkies
5 ml vanielje geursel
Fyn kaneel vir sprinkel werk

1. Plaas kaneel stokkies en melk in ‘n diep kastrol en bring tot kookpunt. Roer aanhoudend sodat die melk nie aanbrand nie. PS: smeer die bodem met bietjie egte botter of olie om aanbrand te voorkom. Sodra die melk kook verwyder van hitte, skakel plaat af, en bedek met digpassende deksel. Laat afkoel tot kamertemperatuur. Hierdie stap is die MAAK of BREEK van jou resep. Die infusie van die kaneelstokkies in die melk is waar die geheim van die lekker van hierdie resep gesetel is. MOENIE dink jy kan sommer net kaneel poeier gebruik nie, die melktert kaaskoek sal bruin uit kom.

2. Voor verhit oond na 170 C en berei die koekpan voor.

3. Veroom die roomkaas en suiker vir 5 minute tot lig en romerig. Voeg die eiers een vir een by, klits goed voor elke byvoeging. Sif die mielieblom, bakpoeier en sout saam en klits in 3 dele by die verroomde mengsel.

4. Voeg laaste die afgekoelde melk en res van die bestanddele by en meng met ‘n draad klitser per hand by. Skep in voorbereide pan.

5. Bak die kaaskoek vir 60 minute by 170C. Toets of die koek gaar is in die middel. Sodra die koek gaar is, koel tot kamertemperatuur. Plaas in yskas en laat vir 4 ure goed afkoel voordat dit ontvorm word. Sprinkel met kaneel patroontjies (loer na die mooi stensils in die aanlynwinkel).

6. Stoor die koek in die yskas vir 5 dae. Die koek vries ook baie goed.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 2020
Hoeveelheid: 12 porsies