Glutenvry, eiervry en gepak met Breinkos vir besige mense! Vir kinders is hierdie ook perfek vir die kosblikke met Hummus, Tsatsiki, Ouma Hantie se knoffelroomsous. Pampoensaad is gepak met anti-oksidante en ook die element yster. Yster is nodig vir die bind van suurstof aan rooibloed selle in die liggaam en dit help jou brein beter fokus…Chia sade is super sade en maak jou liggaam se are skoon en voed jou selle, so het elke bestanddeel in hierdie resep ʼn baie spesefieke nutrient waarde. Psyllium husk is nie net die bindmiddel nie, maar dra by tot vesel vir diegene wat sukkel met hardlywigheid. In alle opsigte wil ek myself verstout om te sê eet een elke dag.

½ k pampoen saad
½ k sonneblom saad
¼ k flax sade
¼ k chia sade
¼ k wit sesam saad
¼ k swart sesam saad (indien onverkrygbaar, gebruik papawersaad of wit sesam)
¼ k fyn gekapte pekans of neut van keuse (opsioneel indien daar neut allergie is)
3 e psyllium husk poeier
2 knippies sout
2 e botter gesmelt of olie van keuse
1 t tot 1 e  kruie, gedroog van keuse
3 knippies uie of knoffel poeier
½ k plus 2e water

Meng al die bestanddele saam en voeg die water by. Roer baie goed deur en rus vir 60 minute.

Voorverhit oond na 150C. Berei twee bakplate voor van ongeveer A4 grootte indien jy verkies om langwerpige of vierkantige plakkies te maak. Indien jy sirkels wil doen, sal jy meer as twee plate benodig. Bak verkieslik op teflon velle (sien my aanlyn winkel), hierdie is kritiek om die plakkies mooi plat en eweredig te bak en ook om maklik af te haal. Glo my dit kan regtig so erg vas sit as mens bakpapier gebruik, jy moet die hele spul in die asdrom laat verdwyn.

Druk die beslag styf vas in die twee panne. Jy kan ʼn stukkie bakkerspapier oor die sade sit en goed vas en dun rol. Plaas in oond en bak vir 10 minute, haal uit en sny deur. Plaas terug in die oond en bak vir 35 minute tot droog. Maak die stukkies los en plaas terug in warm oond en laat dit saam met die oond afkoel. So droog dit perfek uit. Jy kan ook die beslag in ronde sirkels versprei as jy skyfies wil maak. Druk die beslag met ‘n tamper in ‘n ronde koekie drukker vormpie vas.

Vir sirkels gebruik ek die agter kant van ʼn glas om 15 ml hopies plat te druk. Jy kan self hier besluit hoe groot of klein jy die sirkels benodig en jy kan meer as 15 ml gebruik. Persoonlike keuse.

Variasies op die resep:
1. Biltong: voeg ¼ k fyn poeier biltong by. Jy kan ook ¼ k parmassaan, pecorino enige harde sterk gegeurde kaas oorweeg.
2. Kruie opsies is ook heerlik: dill, oregano, salie, roosmaryn, laventel, tiemie, dragonder, marjoram
3. Ek hou ook van speserye soos: sumak, gerookte paprika, fyn mosterd, bietjie neutmuskaat. Eie oordeel
4. Groente poeier soos uie en knoffel is ook heerlike bymiddels. Dosis: 5 ml van een of die ander of halwe mates.

Bron: Annelien Pienaar, Breinkos klasse vir Besige handjies en Lekker-bekkies 2006, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 24 beskuitjies afhangend hoe dik of dun jy rol.