My gesin se vinnige roete vir heerlike vla! Soos julle reeds weet is ek groot op Bêre-mengsels en hierdie resep is deel van die arsenal van resepte. Loer gerus in my kookboeke want daar is baie.. Onthou, hierdie maak wonderlike geskenkies! Studente is gek oor hierdie maklike resep.
Graag wil ek jou leer om eie vanielje suikers te berei ipv om ten duurste aan te koop. Daar is paar opsies om dit te doen en ek gaan beide bespreek.
Vanielje suiker opsie 1
Weeg 200 g (1 k) witsuiker of strooisuiker af en plaas in ‘n bottel wat dig seel.
Neem ‘n plat stukkie watte (wat mens gebruik om grimering te verwyder, OF stukkie katoen lappie) en drup ½ t se vanielje geursel daarop. Staan vir 10 minute om effe te droog. Plaas die watte op ‘n stukkie waspapier bo-op die suiker en skroef toe, maar nie vas, daar moet lug kan in en uit. Laat vir paar dae staan. As die suiker nat voorkom, sprei uit op ‘n bakplaat en laat so verder droog. Sit terug in ‘n lugdigte houer.
Vanielje opsie 2
Neem 4 vanielje peule en 2 k witsuiker of strooisuiker.
Sny die peule in die lengte deur in druk in die suiker. Laat vir 14 dae staan voor jy gebruik. Dit is nie nodig om die peule te verwyder…dit kan daar bly. Gebruik soos nodig.
200 g (2 k) melkpoeier
120 g (1 k) mielieblom (Maizena)
2.5 ml (½ t) geel poeier voedsel kleursel soos Rolkem se poeiers
45 ml (3 e) strooisuiker verkieslik anders witsuiker (kunsmatige versoeters soos erythritol is toelaatbaar tot 60 ml per hierdie resep) (versoeters is opsioneel)
Gebruiksaanwysings
½ k poeier tot 2 k melk en suiker na smaak. Jy kan natuurlik stout wees en kondensmelk byvoeg!
Plaas in ‘n mikrogolf veilige bak, draai vir 1 minuut, roer goed deur, draai weer ‘n minuut, stop en roer met draad klitser. Hou so aan totdat die vla gaar en verdik het. Jy kan minder of meer poeier gebruik na gelang van smaak. Tag my op FB met hierdie resep.
Bron: www.annelienpienaar.co.za vir Food prep level 4, Reconstituted foods by Annelien Pienaar 2003