Lepeltjie fudge is nie ‘n geflopte fudge nie, maar iets wat baie spesefiek ontwikkel is vir geskenkies en ook vir Markdae by skole. Hierdie resep is baie jare al in ons familie en die kinders het al sakke vol geld met hierdie resep gemaak. Jy kan baie meer kreatief raak en goed soos stukkies neute en gekapte sjokolade byvoeg voordat die fudge heeltemal gestol het. Dink ook aan lagies met koekie krummels soos Oreo, Nutty Krust, mini malva lekkers om ‘n Rocky road fudge effek te gee, glans kersies, smarties en vele meer…. Ek hoop om baie van hierdie resep op die Boerekos met ‘n Twist kookgroep te sien.

400 g (2 k) wit suiker
190 ml (¾ k) ingedampte melk
30 ml (2 e) glukose stroop
60 g couverture of goeie kwaliteit bakkers sjokolade (NIE NIBS nie, plat discks of slabs by bakkers winkel)
30 ml (2 e) botter of 80% vet inhoud margarien
Knippie sout
5 ml (1 t) vanielje geursel

Smeer die bodem van ‘n 3 liter kastrol met botter om aanbrand te voorkom. Plaas die suiker, melk, glukose stroop, sjokolade, botter en sout in die kastrol.

Verhit die mengsel oor lae hitte sodat die bestanddele kan smelt maar nie kook. Sodra die bestanddele gesmelt het, verhoog die temepratuur en kook matig vinnig totdat die massa sagtebal stadium bereik. Dit is tussen 113 C en 116C. Ek mik altyd vir 115C. Indien jy nie ‘n suiker thermometer besit, kan jy ‘n piering verkoel en so bietjie van die mengsel daarop drup. As dit soos toffee-sandsuiker is, is dit gereed. Dit neem ongeveer 25-30 minute om daar te kom. MOENIE skrik as dit lyk asof daar aanbrandsel vorm. Roer net baie stadig en versigtig. MOENIE die heeltyd roer nie, net af en toe.

Sodra die regte temperatuur bereik is, haal van hitte en laat afkoel sonder om te roer tot 65C en klits dan met ‘n elektriese klitser totdat dit sy glans verloor en begin sandsuiker toon. Voeg vanielje by en giet in bottels.

Seel dadelik. Hierdie produk hou 3 maande sonder verkoeling op die rak. Maak seker die houertjies is gesteriliseer voordat jy bottel. Lees oor sterilisering in my Boerekos met n Twist kookboek onder die Bottel en Bere hoofstuk.

Bron: Annelien Pienaar vir www.annelienpienaar.co.za, Geskenke uit jou koskas 2016
Hoeveelheid: 500 g (6 klein glasbottels met so 80 g per persoon)