Sjokolade duimpie koekies is ook deel van die BKT oorspronklike kookboek. Loer gerus na hierdie resep se sjokolade ganache vulsel vir ‘n alternatiewe opsie. Lees die fynskrif oor die aanpassing van die tekstuur weens meel kwaliteit. Hierdie koekie smelt heerlik weg onder jou tande.
142 g (1/2 k plus 2 e) botter of bakkersmargarien van 80% vet inhoud
135 g (2/3 k) wit suiker
1 groot (large) eier (skei die eier en hou die twee dele eenkant)
5 ml (1 t) vanielje geursel
160 g (1 ¼ k) koekmeel
33 g kakao, gesif om klonte te verwyder, onthou klonte klits nie uit
Knippie sout
50 g (1/2 k) pistasio of ander gekapte neute
Pistasie ganache vulsel
60 g wit couverture sjokolade of bakkers sjokolade, gesmelt
60 g pistasieneut botter, bak die pistasie neute vir 5 min by 180C en gooi uit op ‘n vadoek. Vryf die neute in die vadoek om die skille te verwyder. Plaas in voedselverwerker of Bamix se wet ‘n dry mill. Puree tot gladde botter. Jy kan enige ander neut soos amandel of pekan ook gebruik.
15 ml (1 e) versiersuiker
1 ml vanielje geursel
1 tandestokkie puntjie groen voedsel kleursel
Knippie sout
Vir die ganache: meng die gesmelte sjokolade, pistasie botter goed saam en roer laaste die res van die bestanddele by. Hou warm in dubbel koker wat jy afgeskakel het.
Deeg
Voor verhit oond na 200 C. Voer bakplate uit met bakkerspapier of silikoon velle.
Room die botter en suiker saam vir 5 minute tot lig en romerig met ʼn elektriese klitser. Klits daarna die eiergeel en vanielje by en meng goed deur.
Sif die koekmeel, kakao en sout saam. Voeg dan die meelmengsel by die geroomde mengsel en meng op matige spoed met die K haak van ʼn staanmenger verder. Sodra die deeg ʼn bol vorm stop en haal uit.
Indien jy 15 ml van die deeg ʼn bolletjie sou rol en dit breek maklik of is bros voeg asb 1 – 2 eetlepels melk ekstra by. Die rede vir dit is, dat meel kwaliteite pla en as jy die koekie rond maak en plat druk met die agterkant van ʼn maatlepel en dit bars erg en behou nie vorm, moet jy melk byvoeg. Dus oordeel fyn hier.
Een wenk is om die deeg balletjies nadat dit gevorm is en uit gehol is, vir ʼn uur te vries voordat dit bak. So bars dit ook nie en hou vorm. Vorm nou 30 ml bolletjies en pak 2 vingers uit mekaar op ʼn voorbereide bakplaat. Verkoel vir 60 minute in ʼn vrieskas voordat dit gebak word.
Vir neute randjies: smeer die koekies nadat die holtes gedruk is met eierwitte en druk dan neute versigtig op die kante vas. Hierdie verleen soveel mooi afronding aan die koekies.
Bak die koekies dan vir 10-13 minute by 200C. Sodra die koekies uit die oond kom. Neem dieselfde lepeltjie wat jy gebruik het om die holte te maak, en druk dit weer dieper in. Dit sou tydens die bakproses uit gepof het…maak dit net weer hol.
Laat die koekies goed afkoel voordat jy dit vul.
Die vulsel kan eenkant in ʼn dubbel koker warm gehou word deur dit in warm water te los nadat jy dit gemaak het. So bly dit vloeibaar om makliker te giet.
Stoor die koekies in ʼn lugdigte houer vir 4 weke of in die vrieskas vir 3 maande.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, Koekies 101. 2003
Hoeveelheid: 20 klein koekies, hierdie resep verdubbel perfek