
Kerriekool en Kerriebone is seker so vas aan ons koskultuur soos ons onderklere aan ons lyf. My ma het hierdie resep heerlik getwist vir ons gesin dat daar altyd bottels vol verdwyn het as ons met vakansies kom kuier het. Aan die einde van die resep het ek ‘n paar Twists gegee soos vir Kerrie piesang kool, Kerrie uie ringe en gee jou die kans om heerlik kreatief te raak. Kom ons begin.
2 kg kop kool, opgesny in repe of blokkies
700 g uie, geskil en ringe of blokkies gesny
10 ml (2 t) sout
250 ml (1 k) water
1 liter (4 k) asyn
600 g (1 ¾ k) wit suiker
30 ml (2 e) garam masala uit Boerekos met ‘n Twist of Vleis die omvattende gids
10 ml (2 t) borrie
60 ml (4 e) mielieblom
In ‘n vlekvrye staal kastrol plaas daarin kool, uie, sout en klein water en bring tot kookpunt. Kook totdat die kool sy brosheid verloor het en gesag het. Dreineer baie goed en hou ½ k van hierdie water eenkant om die mielieblom later aan te maak.
Hou mielieblom eenkant en kook die res van die bestanddele saam vir 5 minute. Voeg die koolmengsel by en kook dan vir 10 minute tot goed deur gekook. Meng die mielieblom met die dreineerde water en voeg by die kokende mengsel, maak seker jy roer vinnig sodat daar nie klonte kan vorm. Kook tot dik vir 2 minute en bottel in warm gesteriliseerde flesse.
Draai die bottels op hul koppe om goed af te koel. Dit sal voorkom dat voedsel bederf intree weens waterdamp wat sou vorm bo in deksels.
Laat vir 3 weke staan vir geure om te ontwikkel.
Wenke:
1. Piesang kerriekool slaai: In hierdie resep kan jy 6 piesangs ook in sny om saam met die vog deel te kook en nie die begin fase nie. Anders kook die piesang weg.
2. Hierdie resep se kool kan 100% vervang word met uie om ‘n heerlike romerige uie slaai te maak of vir ‘n relish met burgers en broodjies, hierby kan jy ook speel met geure van piesang en dalk ‘n koppie rosyne van jou keuse.
Mag jy hierdie resep jou eie maak en heerlik Twist.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za vanuit die bottel en bere klas 2016
Hoeveelheid: 6-8 375 ml botteltjies
More Annelien hoe kan ek die kerrie kool aanpas vir n diabeet asb.
Wilna, my wenk is om die inmaak tegniek te wysig en dan met die KBA metode veder te preserveer want suiker, suur en sout is saam kragtige preserveermiddels. Haal ons die suiker uit verlaag ons die raklewe en ons moet na alternatiewe verwerkings metodes moet kyk. Die volgende kopkrapper is kunsmatige versoeters. WAnt al die -ol versoeters soos xylitol, erythritol ens gee gastriese probleme. Onthou dat pasiente met diabetes maks 45ml per dag van hierdie tipe versoeters mag neem. Dus stel ek n dossering voor van 1/4 k per hierdie resep van erythritol en NIE xylitol. Aan die einde van die proses plaas die bottels in warm pot kookwater tot onder die bottel se nek tot byy die deksel bedek. Dan kook vir 15 minute en sit die kastrol af en laat die bottels daarin af koel. So sal dit goed bewaar bly vir 11 maannde.
Groete
Annelien Pienaar