Mens kan soos konings eet en vir my kampkos altyd ‘n heerlike uitdaging om my Filistyne se honger te stil. Wanneer ons gaan kamp is daar ‘n paar gaarmaak opsies om te oorweeg want daar is nie net die knetterende vuurtjie wat ons by kan kuier maar ook die nuutste tegnologie vir Lugbraaiers (Airfryers), mikrogolfoonde en vele meer. Vir die volgende paar weke gaan ons dan kyk na alternatiewe gaarmaak metodes.

Vandag se resep is ‘n spek en uie onderste-bo gebak, alles in een pan bygereg. Klein uitjies word geskil en halveer, regop maak staan in ‘n gietyster pan en dan tussen in spek, heuning, botter en gevolg met ‘n loop kors. Nadat dit gaar is word dit op ‘n bord omgekeer en die soet gebakte uie met die spek stukkies tussen in loer vir jou… So hoe bak jy so ‘n onderste-bo tert oor die oop kole?

Vulsel
1 x 20 cm gietysterpannetjie
1 x 30 cm stukkie foelie
15 klein rooi uitjies of gewone klein piekel uitjies, geskil en in die dwarste halveer
¼ k botter gesmelt
¼ k heuning of treacle suiker
200 g spek vleis uit gebraai of stukkies ham of oorskiet vleis (vegan opsie, vul met tofu)

Pak die uitjies regop in die pannetjie sodat die hele oppervlakte met uitjies bedek is. Giet die botter oor en gevolg met die suiker.

Daarna sprinkel die spek vleis oor en sout en peper na smaak.

Berei die deeg.

Slap deeg
Wenk: hierdie resep se droë bestanddele kan vooraf vermeng word, om tyd en spasie beter te benut. Al wat kort gaan die vog deel wees.

250 ml (1 k) melk
1 ekstra groot Eier
140 g (1 k ) koekmeel – gesif
10 ml (2 t) bakpoeier
Sout en peper na smaak

Meng die vloeistowwe goed saam en meng die droë bestanddele saam. Voeg alles by mekaar en meng deeglik deur.

Giet die beslag oor die uie in die pannetjie. Plaas ‘n deksel op die pan en sit 2 kole bo-op. Bedek met die deksel met die foelie. Plaas oor kole en bak vir ongeveer 35 minute oor matige hitte totdat die uie karameliseer het en die deeg deur gaar geword het.

Wees versigtig om nie te brand. Plaas ‘n groot genoeg bord oor die pan en keer die pan om sodat die gebakte uie na bo wys.

Bedien warm.

Alternatiewe gaarmaak metode:
Mikrogolf: volg alle stappe en bak soos volg:

Smeer die bak met botter uit en sprinkel ‘n hand vol brood krummels oor, skud die bak sodat die hele bak bedek is. Dit dra by tot die maklike ontvorming van die gereg.

8 minute by 100% krag in ‘n mikrogolf veilige bak en bedek met kleefplastiek sodat stoom kan opbou. Laat vir 5 min rus in die mikrogolf voordat die deur geopen word.

Keer dadelik uit op ‘n bord.

Oond bak: 180 C vir 35 minute.

Porsie: 4
Bron: www.annelienpienaar.co.za 2022