Die oorsprong van hierdie resep is Brits. Die Engelse het ʼn groot invloed op ons koskultuur gehad en die Boere het maar so met die jare se verloop hul eie stempel op die tradisionele Melton Mowbray pork-pie afgedruk. Die geheim van hierdie resep is om uitgekookte bees, skaap of varkvet te gebruik. Indien jy nie een van hierdie soort vette in voorraad het kan Ghee gebruik word. Ghee is verhelderde botter. Verhit botter en skep die skuim deel af. Die helder deursigtige vloeistof is die suiwer olie deel wat gebruik gaan word vir die resep.
Deeg
230 g koekmeel
Knippie sout
100 g vet of ghee
90 ml water
1 eier om te verglans plus 3 e melk
Meng die sout en meel saam in ʼn mengbak. Neem 30 g van die vet en vryf dit met die vingerpunte in.
Verhit die water en res van die vet saam tot onder kookpunt. Die water moet net net begin borrel. Giet die warm vloeistof direk by die meel en roer totdat dit bymekaar kom met ʼn hout lepel. Indien jy ʼn menger het, sal dit makliker wees en knie tot glad, maar oppas vir oorwerk. Die deeg moet net net bymekaar kom. Per hand gaan jy so paar minute wag en dan die deeg deur knie vir ʼn minuut en dit plat druk in ʼn sakkie. Gebruik die deeg dadelik.
Neem bakkerspapier en bind dit romdom ‘n 15 cm koekpannetjie se buitekant vas. Dit sal help om later die pan makliker te verwyder sodat die deeg op sy eie staan. Vorm die deeg in ‘n bol en druk die middel plat sodat die pan op dit pas. Vorm die deeg dan met jou hande rondom die pan, dit is amper soos om by die see sandkastele te bou en sand vas te druk. MOENIE groter as ʼn 15cm pan gaan nie, want die deeg sal oop bars en sy inhoud verloor. Wees baie versigtig. Jy kan basies enige ronde vorm gebruik soos ʼn konfyt botteltjie of blikkie. Die keuse is joune. Die voorbereiding is egter krities.
Verkoel hierdie deeg pakkie met sy deksel vir ‘n uur in die vrieskas indien moontlik anders yskas vir 2 ure. Berei solank die vleis vulsel.
Pastei vulsel
Neem kennis: dit is ʼn rou vulsel wat binne in hierdie kors bak, nie gaar.
500 g maer vark vleis soos, boud, fillet of skouer, 2 cm blokkies gesny
Sout en peper na smaak
250 ml groente aftreksel, warm
30 ml gelatien
Voeg die gelatien by die warm aftreksel. Roer goed deur en maak seker die gelatien het opgelos. Indien daar nog korreltjies sigbaar is, verhit die vloeistof sonder om te kook vir ʼn minuut en hou aan roer totdat die aftreksel geen tekens van korrels toon.
Laat die aftreksel afkoel tot kamertemperatuur en voeg die vleis, sout en peper by. Laat vir 5 minute staan en vul dan die verkoelde pastei(e). Plaas deksels op en druk die kante met mooi patroontjies met jou vingers vas. Indien die deeg te hard gevries het, wag so 5 minute totdat die deeg se kante sag is. Maak ʼn kruisie in die middel van die pastei om stoom uit te laat anders sal die deksel oop bars van die stoom wat binne in die pastei genereer word.
Smeer die pastei met die eier en melk mengsel en bak vir 60 minute by 170C.
Bron: Annelien Pienaar, 2022, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 groot 15 cm pastei vir 4 persone of 2-4 kleiner van eie keuse.