Ek glo dat almal van ons op ‘n keer in ons lewe met sousbone te doen gehad het. Sommiges is gaande daaroor en sommiges hou niks daarvan. Vir my vorm dit deel van onthou-kos van my kindertyd en was ‘n stapel in ons huis. Peulgroentes is baie belangrik in ons daaglikse dieet want dit absorbeer slegte cholesterol en onnodige suikers en gifstowwe om uit die liggaam vervoer te word, vee die derm kanaal skoon en hou jou gesond. Dus al spot ons ons moet meer bone eet want die land kort gas…wel, dan is dit nie ver verkeerd nie.
Droë bone bevat ‘n vorm van koolhidraat wat winderigheid veroorsaak genaamd oligosaccharide (raffinose). Hierdie kan net verminder word deur die bone eers oornag te week en dan paar keer op te kook en goed te spoel voordat die finale prosesse gevolg word.
500 g droë suikerboontjies of witboontjies
100 g (½ k) wit suiker
200 ml wit asyn
10 ml sout
5 ml fyn swartpeper
115 g (1/2 k) botter, kamertemperatuur
Sprei die boontjies oop op ‘n oppervlak en kyk goed deur. Soms land daar ‘n klippie in die mengsel en ook fyn stokkies. Plaas die bone in ‘n glas bak en bedek met 1 liter water. Laat die bone vir 12 ure week. Spoel die volgende dag goed af.
Plaas boontjies in ‘n kastrol met kokende water, genoeg om dit te bedek. Kook vir 5 min en spoel af met warm kraan water en kook weer vir 5 min en spoel weer. Hierdie spoel aksie sal die ensieme afwas wat winderigheid en krampe in die gastriese stelsel veroorsaak. Dus, is dit ‘n noodsaaklike proses. Daarna kook die bone oor matige hitte tot sag maar nie ‘n pappery.
Dreineer die boontjies en hou 1 k van die water terug. Plaas die bone en die koppie kookwater as ook die res van die bestanddele in die kastrol en kook goed deur vir 5 minute. Druk die bone effens fyner indien verkies. Bottel dan dadelik in skoon en warm gesteriliseerde flesse.
Draai die bottels onderste bo en laat so afkoel. Sodra verkoel, sal jy merk dat die proppe ingeduik het en goed lugdig geseel het. Indien dit nie gebeur het. Moet die inhoud so gou moontlik geniet word en in die yskas gestoor word.
Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar 202
Hoeveelheid: 4x 375 ml (heuning grootte) flessies of dalk bietjie meer.
Dankie vir die sousbone resep, neem my terug na my jare in my Ma se huis.
Hallo Hettie, sommer baie bly dat hierdie resep vir jou herinneringe en ook ‘n postiewe gedagte na laat. Geniet. Groete Annelien