Die kombinasie van twee resepte wat vir my baie na aan die hart lê: Kaaskoek en Wortelkoek, is iets wat regtig vir my verrassend heerlik uit gekom het en vir die afgelope 15 jaar word dit maandeliks in die Pienaar woning gebak. Piesang en pynappel kan met mekaar uit geruil word vir heerlike nuwe geure en smake.
Koekbeslag
140 g (1 k) koekmeel
200 g (1 k) witsuiker
10 ml (2 t) kaneel
1 ml (2 knippies) neutmuskaat/nutmeg
1 ml (2 knippies) fyn gemmer
5 ml (1 t) bakpoeier
1 ml (2 knippies) sout
190 ml (2/3 K) sonneblom olie
2 ekstra groot eiers
10 ml (2 t) vanielje geursel
1 ½ k grof gerasperde wortels
½ k fyn piesang of pynappel
Voorverhit oond na 170 C. Smeer ‘n reghoekige glas of keramiek bak (30 cm x 23 cm) met gesmelte botter. Hou eenkant. Jy kan ook ‘n 20-25 cm ronde keramiek bak of glas gebruik. Rede hoekom metaal nie gebruik word, die mengsel brand baie maklik.
Sif die koekmeel, suiker. Kaneel, neutmuskaat, gemmer, sout en bakpoeier saam en voeg in mengbak. Meng die olie, eiers, vanilla geursel, wortels en piesang/pynappel saam. Voeg die natbestanddele by die meel en meng baie goed deur.
Giet helfte van die mengsel in die gesmeerde bak en skraap gelyk en hou die res van die beslag vir later. Berei die kaaskoek laag.
Kaaskoek
230 g roomkaas, kamertemperatuur, geroer tot glad
210 g strooisuiker
2 ekstra groot eiers
30 ml (2 e) koekmeel
100 ml volroom melk
15 ml vars suurlemoen skil gerasper
40 ml vars suurlemoensap
Nota: as roomkaas nie by kamertemperatuur is, gaan die sprei van die beslag bo-op die wortelkoekmengsel baie moeilik wees. So maak seker die roomkaas is by kamertemperatuur.
Klits die roomkaas en strooisuiker tot lig en romerig en goed gemeng. Voeg dan die melk, koekmeel en suurlemoen skil en sap by. Klits weer baie goed. Klits die eiers hierna een vir een by en klits deeglik voordat die volgende eier by gevoeg word.
Skep die beslag oor die wortelkoek beslag in die pan en maak liggies gelyk, dit het nie nodig om perfek te wees. Skep die oorblywende wortelkoek beslag oor. Trek ‘n tande stokkie deur die beslag in ‘n sig sag beweging.
Plaas die koek in die oond en bak dan vir 35-40 minute tot geset. Laat die koek goed afkoel voordat dit gesny word. Bedien met ‘n skeppie Chantilly room op die kant.
Bron: Annelien Pienaar, 2003, Food Prep Level 5, Tswane North FET campus
Hoeveelheid: 12 groot blokke