Eenvoudige en baie maklike resep wat nie eens ‘n menger benodig behalwe jou hand, ‘n draadklitser en ‘n bak. Die resep kan ook bevries word voordat dit gebak word, wat mens die geleentheid gee om vooraf beplanning te kan doen en ook op die dag warm nagereg te bedien. Die geheim vir ‘n heerlike molton is goeie kwaliteit  couverture sjokolade. Loer gerus aanlyn vir handelaars in Suid-Afrika. Ek werk meeste van die tyd met 55-70% couverture afhangend van wat ek maak. Vir hierdie resep is 50-60% perfek om daardie lopende sjokolade effek te gee. Verder is hierdie resep ook eiervry! Kom ons begin.

4 x 150 ml metaal houertjies

70 g (1/2 k) koekmeel
2.5 ml (1/2 t) bakpoeier
Knippie sout
40 g (6 e) kakao
100 g (1/2 k) treacle suiker
1 e kits koffie (opsioneel)
200 ml volroom melk liggies verhit, gesmelt
50 g (4 e) ghee (verhelderde botter)
5 ml (1 t) vanielje geursel
4 stukkies 20 g couverture of bakkers sjokolade (smelt self in porsies)

Voorverhit oond na 180C en berei 4 darial moulds (metaal verkieslik) voor met pansmeer of kleefwerende sproei en neem ekstra kakao en sprinkel in die vormpies sodat die kante goed bedek is. Skud ekstra uit en hou eenkant.

Sif koekmeel, bakpoeier, sout, kakao saam. Meng die suiker en koffie by.

Smelt ghee en voeg by lou warm melk asook vanielje geursel. Giet by meel mengsel en met ‘n draad klitser meng die beslag deeglik deur.

Skep die beslag in die vormpies en vul eers net half vol, plaas die sjokolade stukkies in die middel van elke vormpie en bedek met die res van die beslag.

Bak vir 15-20 minute by 180 C. Laat vir 5 min in vorms afkoel en keer uit op opdien bordjies, sprinkel met versiersuiker of ekstra kakao en bedien dadelik.

WEnk: hierdie lawa koekies kan ongebak bevries word vir later. Haal uit en ontdooi ‘n uur by kamertemperatuur en bak dan soos normaal.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 2016
Hoeveelheid: 4