Lees vooraf asb!!!

Fase een berei jy ‘n Swiss meringue wat eers goed moet afkoel tot kamertemperatuur. Daarna word die SAGTE kamertemperatuur botter bietjie vir bietjie by geklits. ‘n Suiker termometer is hier jou beste vriend. WEEG asb alle bestanddele.

450 g eierwitte, kamertemperatuur (ongeveer 8-9 eiers geskei) eiergele kan gevries word vir pasteie en vla.
¼ t kremetart
900 g witsuiker
950 g botter, MOET sag wees (80% bakkersmargarien mag gebruik word)
¼ t sout

Ons gaan met ‘n dubbel koker sisteem werk. Dit beteken dat die onder pot met water gevul word en stadig tot kookpunt gebring word en dan teen matige hitte verhit word. Die water mag nie borrellend kook. Plaas ‘n mengbak oor die kastrol sonder dat die bak aan die water raak. Metaal gelei hitte goed maar eiers kan maklik skif. Maak seker jy werk vinnig en hou nooit op meng met die draad klitser. Glasbakke kan gebruik word, maar neem baie langer. Dus as jy onseker is, werk met ‘n glas bak. Die thermometer sal aandui as die mengsel gereed is vir die volgende stap.

Plaas eierwitte, kremetart en suiker in ‘n mengbak en klits vinnig met ‘n draad klitser (whisk) deur om te meng.

Plaas die bak oor die kastrol en hou aan roer totdat die mengsel 49C bereik. Moenie vir ʼn oomblik op hou klits, dit is as jy ophou klits dat die gedoente skif!

Verwyder die mengbak van die hitte en klits dan tot vol volume teen matige spoed en afgekoel. Enige iets van 8-15 minute. Vir Kenwood stelling nommer 3 met die K haak. Vir Kitchenaid stelling nommer 4 met die K haak. Hierdie mengsel MOET afgekoel wees tot kamertemperatuur. Wanneer die botter bygevoeg word en die mengsel is te warm gaan die botter smelt en die resep flop. Wenk: hierdie mengsel is by hierdie stap geskik om direk op Lemonmeringues gespuit te word en dan gebak te word…voor die botter by kom. Bak 190C vir 15 min of korter tot bruin. 

Sodra die meringue afgekoel het, voeg die botter teen dieselfde spoed soos aangedui in klein hoeveelhede by. Vuurhoutjie dosie porsies is perfek. Sodra die mengsel klaar geklits is en vol volume is, Skep oor in ʼn zip lock sakkie, druk die lug uit en hou in die yskas as dit nie gebruik word. Druk ook soveel moontlike lug uit. Kleur en geur na gelang van smaak. PS: moenie skrik as dit lyk of die mengsel terwyl dit klits volume verloor as die botter bygevoeg word, hou net aan met klits, dit sal weer verdubbel.

Hoeveelheid: genoeg vir 3 dubbel laag koeke en 4 dosyn kolwyntjies
Bron: Annelien Pienaar, 2001, Food Prep Level 4, Tshwane North FET campus