Daar is ʼn koekie in die winkels wat ek net nie kan weerstaan nie. Toe ons in Kanada gewoon het was daar nie Nutti krust koekies nie en die die heimwee was groot. Ek het op ʼn dag besluit dit is nou of nooit, ek het begin met die ontwikkeling van hierdie resep en na ʼn maand kon ek terug staan en tevrede voel met die pogings. Is dit dieselfde, is dit eties korrek? Nee, dit is nie, maar die warm soutkaramel smaak as jy die koekie in ʼn koppie tee doop…dit is hemels.

80 g (1 k) desiccated coconut
80 g (1 k) oats

Plaas die klapper en oats in ‘n voedsel verwerker en maak dit fyn, oppas net vir te fyn. Moet soos growwe sand lyk. Hou eenkant.

125 g (1/2 k plus 1 e) botter of 80% vetinhoud margarine
150 g (¾ k) strooisuiker
30 ml (2 e) goue stroop
5 ml (1 t) sonneblom olie
5 ml (1 t) karamel geursel
Knippie kaneel
Knippie gemmer

Plaas die strooisuiker en margarine in n mengbak en verroom die mengsel tot lig en donsig.

Voeg die goue stroop, olie, karamel geursel, kaneel en gemmer by. Meng goed deur.

5 ml (1 t) bakpoeier
¼ t sout
35 g (¼ k melkpoeier
140 g (1 k) koekmeel
5 ml (1 t) koeksoda

Sif al die bestanddele saam en meng dan met die klappermeel mengsel.

Voeg dan die meel mengsel by die verroomde mengsel en meng dan per hand en deeg skraper om een massa te vorm. Druk die deeg aan mekaar met die hand en druk dan plat in ‘n sakkie en verkoel vir 30 minute. Koekie deeg wat verkoel word voordat dit gebak word behou vorm as dit bak.

Voorverhit oond na 180C en brei bakplate voor vir die bak van die koekies. Silikoon velle is perfek om hierdie koekies mee te bak. Loer onder my winkel vir die velle.

WEnk: sou die deeg droog voorkom, voeg 1-3 e melk by. Weeg eerder bestanddele sodoende kan jy al die kopkrappers uitskakel soos deeg wat te droog is.

Vorming van koekies:
Per hand: Rol die deeg in een lang rol en druk dan in ʼn reghoekige vorm, bedek met kleef plastiek en vries vir ʼn uur. Sny dan in 5mm dik repies en spasieer ʼn vinger spasie uit mekaar.

Per vleismeule of koekiemeule: Plaas al die deeg in die meule en pas ʼn koffiekoekie vorm of ʼn langwerpige vormpie in die buis en rol dan in repe en sny in 7 cm repe. Spasieer ʼn vinger spasie uit mekaar

Bak by 180 C vir 10-15 minute. Laat goed afkoel voordat die koekies gestoor word in ʼn lugdigte houer. Koekies vries ook baie goed.

Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, Kersfees 2020
Hoeveelheid: 30-50 koekies afhangend hoe dik jy sny en die grootte van die plaatjies.