Karamel vulsel vir koekies
115 g (1/2 k) gesoute botter of 80 % bakkersmargarien
100 g treacle suiker (demarera of muscavado sal ook geskik wees)
410 g kondensmelk
15 ml mielieblom aangemaak met 50 ml kraan water by kamertemperatuur
Plaas die botter en suiker in ‘n diep kastrol en smelt oor matige hitte sonder om te kook. Sodra die suiker amper opgelos het bring tot kookpunt en kook vir presies 5 minute op hoog.
Voeg die kondensmelk by en kook weer vir 5 minute totdat die kleur verdiep na goud bruin.
Meng die mielieblom en water en giet by die kokende massa en kook weer vir 5 minute.
Laat goed afkoel voordat dit in koekie vulsels gebruik word.
Variasie met rooi konfyt
115 g rooi konfyt van keuse (aarbei, framboos)
1 t mielieblom
50 ml water
Plaas konfyt in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Meng die mielieblom en water saam. Voeg by die kokende konfyt en roer goed deur soos die konfyt kook totdat dit verdik het. Kook vir 5 minute oor matige hitte. Verwyder van hitte en vul dadelik die koekies voordat die konfyt verdik as dit afkoel.
Duimpie koekies
230 g (1 k) botter of 80% bakkersmargarien by kamertemperatuur
280 g (2 k) koekmeel
130 g (1 k) versiersuiker
15 ml (1 e) wit suiker
5 ml (1 t) bakpoeier
5 ml ( t) vanielje geursel
Knippie sout
Voer twee bakplate uit met silikoon velle of bakkerspapier. Hou eenkant in die vrieskas.
Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam.
Voeg die versiersuiker, wit suiker, botter en vanielje geursel by mekaar en klits tot lig en romerig op medium spoed vir 5-8 minute.
Voeg die meel by die verroomde mengsel en knie liggies per hand totdat die deeg bymekaar kom. Rol die deeg in ‘n wors en verdeel in 30 ewe groot stukkies of ongeveer 20 g balletjies elk. Rol elke stukkie deeg in ‘n perfekte balletjie en plaas op die verkoelde bakplate. Druk met jou duim ‘n gaatjie.
Plaas die koekies in die vrieskas vir 30 minute. Hierdie is die geheim van die koekie om ‘n mooi holte te bak en ook nie plat te gaan en indien jy die konfyt opsie neem sal die konfyt ook nie oorkook nie. Anders kan konfyt later weer aangevul word as die koekie gaar is. So neem jou tyd en wees rustig. Voor verhit die oond na 175 ℃.
Bak koekies vir 15 tot 17 minute. Ek hou van hierdie koekie om nie te bruin te bak sodat die konfyt mooi vertoon.
Laat koekies goed afkoel voordat jy dit vul.
Variasie wenke:
1. Maak hartjie vorms ipv duimpie drukkies deur die agterkant van ‘n plat hout lepel te neem en dan ‘n klein v-vorm te maak bo-op die deeg. Dit sal ‘n perfekte hartjie gaatjie bak. Sien foto aangeheg.
2. Neute koekie: nadat die duimpie drukkies gedoen is kan die koekie se randte in gekapte neute gedruk word.
3. Kristal koekie: meng 50 g witsuiker en 50 g strooisuiker en soveel fairy eetbare glitter jy wil in die suiker en druk die koekie voordat dit bak daarin. Indien die suiker nie wil klou kan die deeg met water nat gespuit word en dan in die suiker gedoop word.
4. Rol die deeg soos vir doppie deeg uit en druk uit en vorm in mini kolwyntjie pannetjies om dan ‘n karmamel koppie te vorm.
Bron: www.annelienpienaar.co.za Kersfees 2020
Hoeveelheid: 30
Hallo Annelien,eks nou dom….sit mens die karamel in voor die koekie gebak word ?
Aletha, jy moet die koekie eers bak en as dit afgekoel het vul. Groete Annelien
Wat is nou reg die versiersuiker of gewone wit suiker?
As dit suiker is het ek die inligting gemis?
Hallo Rita, dit is versiersuiker en so ‘n bietjie witsuiker kom ook by. Lees asb vir my deur die resep en laat weet as iets onduidelik is. Groete Annelien