Roommielies is seker een van my persoonlike gunstelinge en vandat ek kan onthou het my moederlief altyd ʼn rytjie suikermielies in die groente tuin ekstra geplant om te verwerk. Haar tuisgemaakte roommielies is lekkerder as dit wat jy in ʼn blikkie kan koop! Loer gerus na die Roommielie resep op die webtuiste. Maak jou eie Roommielies
Hierdie kolwyntjies is vullend en vir kosblikke en ook ʼn ligte middagete met bietjie slaai en ʼn patee, die perfekte ete. Soms as die gier my pak bak ek die beslag in ʼn piesangbrood pannetjie. Bak tyd gaan wees 40 minute by 180 ℃.
Blansjeer van spinasie: kook ʼn kastrol met water. Spoel die spinasie baie goed om sand te verwyder. Breek die wit swoerd uit en spoel die blare weer. Plaas die blare in die kokende water vir 1 min. Die blare sal dadelik pap word. Skep uit en in ʼn bak koue water. Druk dan hande vol water uit die spinasie en sny kruis en dwars op om die filamente korter te maak. Hierna kan dit in resepte gebruik word of bevries word vir 6 maande.
280 g (2 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
2.5 ml (1/2 t) sout
5 ml (1 t) gerookte paprika
2.5 ml (1/2 t) neutmuskaat (nutmeg)
200 g (250 ml), gaar spinasie gekap
125 g (1 k) gaar vleis van keuse, vir die foto het ek spek, maar ham, spek, kaings, hoender, maalvleis sal perfek werk, selfs oorskiet braaivleis veral boerewors.
50 g (1/2 k) cheddar, gerasper
50 g feta kaas gekrummel (opsioneel)
400 g (1 blikkie) suiker roommielies
2 ekstra groot eiers
100 ml sonneblom of olyf olie
Sout en peper na smaak
Variasies: 100g ekstra van die volgende: sampioene of uie of peppers of gerasperde butternut of wortel of murgpampoen of eiervrug of brokkoli fyn gesnipper…hier kan jy self lekker kreatief raak.
Voor verhit oond na 190 ℃ en smeer ʼn 12 gat muffin pan.
Sif die koekmeel, bakpoeier, sout, paprika, neutmuskaat saam en roer goed deur.
Meng al die nat bestanddele saam asook die spinasie.
Maak ʼn holte in die meel en giet die nat bestanddele by. Met ʼn deeg skraper meng die bestanddele saam. Die geheim van hierdie muffin is om dit NIE te OORMENG nie. Die beslag moet net net bymekaar kom en nog klonterig voorkom.
Skep in pannetjies en bak vir 25 minute tot bros en gaar.
Bedien met Biltong patee uit die BKT kookboek of Ouma Hantie se Konffelroomsous. Vanaf die webtuiste die Songedroogde tamatie marmelade is heerlik hiermee saam.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za , 2020
Hoeveelheid: 12
Hi Annelien
Ek kry ingelog!! Baie dankie. Hierdie gaan ‘n wonderlike reis vir my wees
Ek moet wel ingelog wees as Susan Becker (Waarom die van in hoofletters is weet ek nie)
Dankie vir alles
Susan
Hallo Susan, iewers het jy dalk per ongeluk die caps on gebruik. Ek is egter bly jy is nou op die lug en kan lekker saam woeker in die kombuis. Groete Annelien