As kind het my liefste moeder vir ons hierdie resep baie male sonder tal gemaak. As ons naweke terug is Universiteit toe het so ʼn paar snye van haar joghurt broodjie die pad na ons “mamma pakkies” gevind. Ja, ma hier hierdie broodjie altyd in piesangbrood grootte panne gebak. So, jy kan enige vorm van ʼn pan gebruik. Vir hierdie foto het ek ʼn bundt pan gebruik en die botterkoekbasis (ook genoem pound cake) is stewig en bak pragtig om gesny te word indien jy sou verkies om ʼn figuur koek te wil sny. Dan laat jy net die bessies uit.

Jare later bak ek hierdie basiese resep nog baie en ek het so ʼn kinkel van my eie in gebring deur gevriesde heel bessies soos Frambose en Blou bessies ook te gebruik. 2 koppies bevrore bessies is perfek om die verglansde kersies mee te vervang. Dit is egter belangrik om die bevrore bessies eers heel laaste by te meng net voor jy bak. As die bessies ontdooi het bloei dit in die koek en word gou pap.

Kom ons begin toor in ons kombuise!

Koek basis
125 g botter of 80% vetinhoud margarien, kamertemperatuur. As jy vergeet het om die smeer betyds uit te haal, rasper dit net. So weeg eers af en rasper dan. Neem van die meel uit die resep om die rasper wat dalk kan aanpak bietjie af te vee.
210 g (1 k) strooisuiker (indien jy uit strooisuiker is, kan gewone suiker gebruik word, maar klits ten minste 5 minute langer om die suiker kristalle kleiner te kry.
30 ml (15 ml) suurlemoen skil gerasper
3 ekstra groot of jumbo eiers, geskei
300 g glans kersies of 150 g glans kersies met 100 g gemengde koekvrugte
45 ml vars suurlemoensap
280 g koekmeel
10 ml bakpoeier
½ t koeksoda
½ t kremetart
250 g dubbel dik gewone joghurt of suurroom
Knippie sout

Voorverhit die oond na 160℃ en smeer 1x bundt pan 20-25 cm grootte of 2 x piesangbrood panne, baie goed met Pansmeer uit die Boerekos met ʼn Twist kookboek p.12 hierdie pan smeer sal enige koek of gebak sommer uit die pan laat gly.

Room die botter/margarien en suiker saam vir 5 minute tot lig en donsig. Neem dan die eiergele en voeg 1 vir een by en klits goed voordat jy die volgende geel byvoeg.

Voeg die sitrus skil en sap by en meng goed deur en dan laaste die joghurt.

Klits die eierwitte net tot dit begin styf word met die kremetart. Geen droë eiertwitte bolle klits asb, die koek gaan uitermate krimp as dit klaar gebak het.

Sif al die oorblywende droë bestanddele saam en vou in by die eiermengsel. Vou dan die eiertwitte in en heel laaste vou met ʼn deegskraper die koek vrugte by. Skep in pan(ne) en bak vir 65 min by 150℃.

Laat in die panne afkoel en keer uit, verkoel die koek voordat jy die versiersel oor giet. My wenk verder is om die Mascarpone versiersel te maak wat ook ʼn heerlike soet maar suur smakie gee en ook perfek vir hierdie resep.

Glans versiersel
115 g (1k) versiersuiker
30 ml suurlemoensap
30 ml kraan water
Knippie sout
Kleursel van keuse

Meng al die bestanddele saam en giet oor die broodjie/koek

Wit Vrugtekoek variasie
1 k vrugtekoek vrugtemengsel
1 k kookwater
1/2 k brandewayn

Giet die kokende water oor die vrugte en laat staan om af te koel met ‘n deksel op die bak of kastrol. Voeg dan die brandewyn by en laat oornag staan.

Dreineer baie, baie goed die volgende dag om soveel vog moontlik uit te drup. Meng dan die mengsel saam met die kersies van die resep in. Voltooi soos aangedui in die bo-staande resep.

Bron: www.annelienpienaar.co.za deur Annelien Pienaar, 2020-04-18
Hoeveelheid: 1 groot koek of 2 piesangbroodjie grootte brode