Die Amerikaners praat van “Spunge toffee” en ons ken dit as Heuningkoek of te wel Crunchie. Daardie goue soet heuningkoek omhul met sjokolade indien verkies. Ek is gek oor heuningkoek en dit is altyd ʼn fees om dit te maak saam met die kinders. Die skuimbolle en die wag is altyd ʼn opwinding in my kombuis. Hierdie is ʼn gunsteling in my huis as ʼn geskenk pakkie en oor koeke as versiering.

Wenk: vir die stoor van die heuningkoek, neem ʼn stukkie ryspapier of 1 e rysmeel en plaas dit in die houer voordat dit gestoor word. Stoor in lugdigte houer vir maande op die rak. Onthou die heuningkoek is baie sensitief vir vog en moet toe gehou word.

350 g (1 3/4) k wit suiker
175 g (1/2 k) heuning
125 g/ml (1/2 k) water
knippie sout
15 ml (1 e) koeksoda

Smeer ʼn oondpan van 5 cm diep met olie of botter.

Meng die water, suiker, heuning en sout in n groot kastrol. As jou kastrol te klein is gaan die mengsel oor kook! Oor medium hitte smelt die suiker, die mengsel mag nie kook voordat die suiker kristalle nie opgelos het. Neem ‘n kwassie gedoop in water om die kristalle van die kant van die kastrol te was. Sodra die suiker opgelos het in ‘n eenvormige stroop…

Bring die mengsel tot kookpunt en kook teen matige temperatuur tot 146 C. Moenie roer nie, maar draai die kastrol in die rondte deur die kastrol aan die twee handvatsels op te lig en die inhoud te rol van kant na kant.

Sodra 146 C bereik is moet jy baie vinnig werk. Hou die kastrol steeds oor die hitte want die eind temperatuur moet by 148C uit kom. Maak seker die klonte in die koeksoda is fyn en gebruik ‘n tee siffie en sprinkel die koeksoda eweredig oor die kokende massa. Sit die plaat af en verwyder die kastrol van die hitte. Roer dan baie vinnig met n hitte bestande skraper of houtlepel die massa sodat dit begin skuim en skep dadelik oor in die voorbereide pan. Los om af te koel en sny of breek later in stukke.

Bron: Annelien Pienaar, Suiker kookkuns klas 2015, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 oondpan