xr:d:DAFkOsNEstc:234,j:4420706774010330144,t:24040319

Ment jellie is vir my een van die heerlikste items op die spyskaart wanneer ek ʼn stukkie skaapboud beplan. Dit is heel eenvoudig om te maak en kan ook vir 3 maande op die rak gestoor word. Hierdie resep is genoeg om ongeveer 1 x 400 ml bottel jellie te maak. Maar ek stel voor om die bottels eerder te kies om ongeveer 150 ml te neem dan mors mens nie.

2 k vars ment blare styf in ʼn koppie gedruk
3 e suurlemoensap, vars gedruk
50 ml poeier pektien (nie gelatien), vra by gesondheidswinkels, bakkerswinkels en Dischem vir pektien. Anders kook jou eie pektien met granny Smith appels uit die BKT kookboek en dossering ½ k gekookte pektien vir hierdie resep
2 k water
600 g (3 k) wit suiker
2 druppels groen gel voedsel kleursel of 1 t Moirs se dun voedsel kleursel

Plaas die ment blare met water in ʼn voedsel verwerker en maak dan fyn. Giet oor in ʼn kastrol en verhit tot kookpunt. Verwyder van plaat, plaas deksel op en laat vir 45 minute dan trek soos ʼn tee.

Dreineer die vog en probeer om ongeveer 1 ¾ koppie tot 2 k vloeistof te onttrek. Ek plaas ʼn stukkie kaasdoek in ʼn sif en dreineer so. Daarna draai ek die stukkie kaasdoek uit om die laaste vog en ekstra groen uit te kry. Die blare word kompos. Ek hou egter van stukkies ment blaartjies in die jellie, maar dit is jou eie keuse. Ek sit gewoonlik so 1 t van die blare by, maar dit is opsioneel.

Meng die suiker en pektien saam en roer by die afgekoelde ment tee asook die suurlemoensap. Bring tot kookpunt en kook vir 10 minute. Net voor bottelering, voeg groen voedsel kleursel by indien verkies. Bottel in warm gesteriliseerde botteltjies vir ongeveer 6 maande op die rak.

Bron: Annelien Pienaar, 1999, Voedel tegnologie, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 1 x 400 ml dalk effe meer of minder