Wat hierdie vulsel so besonders maak is dat die borsies gebak word in ‘n sousie in die oond en as dit uit kom is dit murg sag. Ek ondervind dat as jy die borsies kook dit nie so maklik in repies skeur nie. Verder kan die rol ongebak bevries word vir 3 maande, 60 min ontdooi en dan direk in die oond by 180C vir 30-35 min gebak word.
LES
1. Wanneer jy pasteitjies vir die hand maak moet die vulsels nie te loperig wees nie anders bak dit uit die kors uit.
2. Om die randte goed te seël het ek die volgende reseppie wat ‘n Indiese vriendin my geleer het.
Maak ‘n pasta van koekmeel en water aan en smeer jou randte met dit om as gom te dien, jy sal nooit weer bekkies kry wat oopspring nie!
3. Om ‘n mooi glans laag op die tertkors te kry, smeer vooraf met 1 eiergeel geklits met 1 el melk en verf op met kwassie.
4. Die rolletjies vries goed ongebak vir 6 maande, jy kan dit direk in die oond sit en bak.
sit net 5 minute by die baktyd.
5. Onthou om altyd ‘n gaatjie of kruisie in die deeg te maak vir stoom om te ontsnap.
BASIS RESEP
6 hoender borsies
1 medium aartappel, geskil en saam met hoender gekook
½ kop mayonnaise
3 el appelkooskonfyt
½ pakkie bruin uie sop poeier
1 kop water
1 e geel mosterdsaad
1 e dill tippies
1 k gemengde groente van keuse, reeds gaar gestoom (bv. brokkoli, blomkool, uie, soetrissie, pepperdews, olywe, songedroogde tamaties)
1 x Vinnige blaarkors deeg
METODE
1. Meng al die bestanddele saam en bak die borsies in ‘n toe kasserol bak vir 1 uur by 180 ˚ C totdat die borsies murg sag is.
2. Laat afkoel en skeur met 2 vurke teen die grein van die borsie sodat jy lang stringetjies kry.
3. Rol deeg ongeveer 30 cm by 30 cm uit. Skep al die vulsel in die middel van die deeg uit. Los asb 5cm aan die bo- en onderkant van die deeg om oor te vou. Die deeg gaan jy met jou oog in drie dele deel. Begin dan om skuins snytjies te maak tot twee vingers van die vulsel. Die snytjies moet so 2 cm breed wees. Hierdie snye gaan dan oor mekaar gevou word om soos ‘n vis graat vlegsel te lyk.
Vou die 5 cm flappe oor en begin dan om van links en regs onderskeidelik die deeg oor mekaar te vou. Foto is van ‘n soet tert wat ek gemaak het op hierdie beginsel.

VARIASIES
HOENDER SAMPIOEN
250 g sampioene – dun snytjies
1 medium ui – fyn gerasper
3 e olie
METODE
1. Braai al die bestanddele saam en meng met die basis hoender resep.
2. Gebruik as vulsel vir enige van die 3 pastei deeg resepte, ryk broskors, skilferkors en olie pastei deeg kors.
3. Sit glans laag op en sprinkel met papawer saadjies.
4. Bak by 200 ˚ C vir 15 – 20 minute vir klein hand pasteitjies.
SPINASIE – FETA EN HOENDER
½ kop spinasie puree
½ kop feta – gekrummel
1 knoffel toontjie – fyn gedruk
sout en peper- na smaak – pasop, die feta het reeds baie sout in
METODE
1. Meng al die bestanddele met die basis hoender resep en gebruik soos nodig.
2. Gebruik as vulsel vir enige van die 3 pastei deeg resepte, ryk broskors, skilferkors en olie pastei deeg kors.
3. Sit glans laag op en sprinkel met sesam saad.
4. Bak by 200 ˚ C vir 15 – 20 minute vir klein hand pasteitjies
PORSIES: 50 rolletjies van 3 cm dik en 5 cm lank.
BRON: Annelien Pienaar, 2013, www.annelienpienaar.co.za