Marmelade rolletjies is heerlik en vertoon pragtig by enige fyn tee tafel met skons, broodjies en vele meer. Dit is egter ʼn tydsame proses om hierdie rolletjies te maak maar die moeite werd. Ek span my stoompot in vir hierdie werkie van skilletjies sag maak en ek het gevind dat met die stoom die ergste bitter van die skil uit kook en die skil heerlik soet is met die kenmerkende sitrus geur.
1 kg sitrus skil (ongeveer 1 sakkie se lemoene)
1.2 kg witsuiker
2 t pektien poeier (Dischem)*
4 k water
2 k lemoensap
Maak seker voor jy begin jou groente messie is baie skerp. Skil die lemoen soos jy ʼn appel sal skil van bo na onder in een baie lang reep. Sny dun genoeg sodat daar ʼn dun lagie wit wys en moenie die string breek nie. Sny elke string in 5 dele.
Plaas die skille in 5 liter water met 1 t sout en 5 e suurlemoensap. Rus vir 1 uur en spoel dan goed af. Hierdie proses sal die bitter help minder maak.
Neem die skille en pak in die stoompot maar moenie die pot te vol maak, maak seker jy vul dit net tot by die maksimum merkie. Voeg 1 koppie water by. Stel op groente en vrugte of vir 10 minute. Die skille moet sag wees na hierdie proses. Indien jy nie ʼn drukkoker het kan die skille gewoon weg sag gekook word. ʼn Vuurhoutjie moet kan deur gaan.
Spoel die skille weer goed af met koue water en rol dan die rolletjies op en steek vas met ʼn tandestokkie.
Berei die stroop deur die suiker met pektien te meng en dan die water en lemoensap saam te meng en eers oor matige hitte, die suiker smelt. Was die kante van die kastrol met ʼn kwassie wat in water gedoop is af. Sodra die suiker opgelos is, kook die stroop vir 1 minuut op hoog en voeg dan die rolletjies by. Kook op matige hitte die rolletjies tot deursigtig of 106C.
Skep die rolletjies versigtig in warm gesteriliseerde flesse en trek die stokkies: tel die stokkies op en neem ʼn vurk om die stokkie te stut en trek dit uit. So val die rolletjie in die bottel sonder om jou vingers te brand. Skuif die rolletjies mooi netjies reg deur dit met ʼn sosatie stokkie in plek te hou. Indien daar stroop kort kan daar net ʼn kwart mengsel van die stroop berei word en die flesse dan so aanvul.
Draai die deksel stewig op. Draai op hul deksel en laat so afkoel.
*Dischem: vra asb by die toonbank dat daar op die sisteem gekyk word. Mense weet nie aldag wat dit is. Hul kan vir jou bestel.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za , 2019-08-02
Hoeveelheid: 4-6 x 375 ml botteltjies
Annelien, Ek neem aan dit is lemoene met dun skilletjies of nie, ons kry met dik en dun skille.
Van konfituure kook ken die vroue hier in Israel, maar ek kan nie onthou dat eek lemoen rolletjies ooit gesien het nie. sal graag eendag my skoonma wil verras met jou resep.
beste, Sonja
Dun skil lemoene werk baie makliker. Ek plaas ‘n foto vir jou hierdie week van wat ek gemaak het. Groete Annelien
Annelien In die bestandele se dit lemoensap maar in die metode suurlemoensap ek neem aan dit is suurlemoensap ?
Baie dankie Leona
Hallo Leona, Ek het gaan loer en die suur weg geneem. Dankie vir jou wakker oog. Lekker verder Twist. Groete Annelien
Annelien hoekom laat staan mens konfyt onderste bo?
Hallo Lorinda, die bottel word onderste bo gedraai omdat die damp wat vorm moontlike oorsaak kan wees waarom mikrobes kan groei en muf ens veroorsaak. Dus as die waterdamp druppels vorm en die bottel word om gedraai, sal daar dmv osmose die suiker wat higroskopies is (trek water na homself aan om op te los)…so sal die water dan egalig versprei word deur die bottel en geen probleme gee. Groete Annelien
Baie dankie Annelien.
Groot plesier.