Daar ontstaan altyd ʼn bakleiery oor wie die pap pot gaan leeg eet! Die bietjie aanbrandsel wat onder in die kastrol vorm is heerlik en met warm melk en suiker…wie kan dit nou weerstaan?
Wat is die geheime rondom die maak van hierdie eg tradisionele gereg van Suid-Afrika? Die mieliemeel moet baie fyn wees en moet soos ʼn vulkaan in ʼn hopie in die kastrol met gesoute water gegiet word sonder om dit te roer vir die eerste 10 minute terwyl dit kook. Die pap word eers gestoom waarna dit met die water ingemeng word. So maklik soos dit! Kom ons begin!
3 k water
4 k fyn mieliemeel
1 t sout
4 e botter of sonneblom olie
Plaas die water, sout en botter in ʼn gietyster kastrol verkieslik met ʼn dig passende deksel en kook die water.
Sodra die water begin kook, giet die mieliemeel in die middel van die kokende water sodat dit soos ʼn eiland in die middel lê. MOENIE roer nie. Plaas die katrol se deksel op en kook teen MATIGE hitte, nie vinnig vir 10 minute.
Maak die deksel oop en met ʼn vleis vurk (daardie vurk wat jy vir voorsny werk van groot stukke vleis gebruik) begin om die water met die pap te meng. Roer goed deur en kook vir nog 30 minute by stadige hitte tot gaar. Indien jy nie ʼn vleis vurk besit, kan jy ʼn gewone vurk ook gebruik. Die gebruik van hierdie toerusting om mee te roer lewer ʼn fyn korrel krummel pap. Die agterkant van ʼn houtlepel sal ook werk.
Geniet met ʼn heerlike sheba/tamatiesmoor/chackalaka/tamatie pasta sous
Bron: Annelien Pienaar, 2019, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 8 porsies
Annelien,
Vir ons wat in lande woom waar nie fyn mieliemeel te koop is nie, is die geel polenta n opsie?
(n tydjie gelede het iemand plaaslik adverteer hulle het te veel mieliemeel van SA gebring ek kan verkoop…120 SAR vir n kg. Ek het ingestem om dit te betaal, maar gelukkig het die ou vergeet om dit saam te bring to hulle met vakansie na ons dorp to kom)
groete uit Israel
Annelien, ek wil sommer hier iets skryf want lyk my jy ontvang om n rede nie my eposse nie.
wanneer ek iets vra by die comment soos hierbo, ek kan net die antwoord weer sien as ek onthou om te gaan soek daarvoor. Is daar nie moontlik n opsie date ek n boodskap iewers kan ontvang wanneer jy op die comments antwoord nie?
baie dankie
groetnis
Hallo Sonja, my epos adres is boerekostwist@gmail.com. Ongelukkig is dit ‘n plug in wat elke jaar $199 kos en dit is nie die finansieel vir my ‘n wyse besluit om so iets aan te skaf. As dit ‘n eenmalige fooi was, kon ek dit oorweeg. Hoop jy verstaan my besluit. Groete Annelien
Polenta is van mielies gemaak en sal perfek werk. Groete Annelien
Geen probleem, wou net weet of dit moontlik is. Baie dankie 🙂