Romerig, dromerig en sommer net lekkerder as lekker. Karamel lekkers! Dit neem bietjie geduld maar die beloning is groot. Outydse praktyke met herinneringe wat ʼn fyn glimlag om my mondhoeke laat met elke happie.

250 ml Suiker
Knippie sout
200 g Goue stroop (sit eers die koppie of maatbeker in water sodat die stroop maklik uitkom)
100 g glukose stroop (jy kan sonder dit werk maar dan gaan die toffie loperig wees en nie ferm)
350 ml Room
5 ml Vanielje geursel/ karamel geursel/ koffie geursel/ sjokolade

Meng die suiker, sout, strope en 150 ml room, verhit en roer om die suiker te laat oplos. Was die kante van die kastrol met nat kwassie. Onthou, hierdie mengsel mag nie kook voordat die suiker opgelos is.

Kook oor lae hitte tot die sagtebal stadium (115 ˚C). Roer aanhoudend, maar baie stadig om aan brand te voorkom.

Voeg 100 ml room by op 115℃ , roer en kook tot 120 ℃.

Voeg die laaste 100 ml room by en roer en kook oor lae hitte tot die stywebal stadium (120˚C) en verwyder van hitte.

Roer die vanielje geursel by en gooi 15 mm dik in ‘n gesmeerde pan, 120 mm x 180 mm groot uit. Laat oornag staan en sny in 15 mm vierkante. Laat ‘n dag of twee staan om te droog en draai elke stukkie in waspapier toe. Die blokkie is heerlik ryk en sag.

Bron: Annelien Pienaar. Sagte lekkergoed klas 2015, www.annelienpienaar.co.za
Hoeveelheid: 30 stukkies ongeveer