Spinasie is ʼn veelsydige groente en vir my moet daar altyd spinasie reeds verwerk in die vrieskas wees. Ek kry baie navrae oor die verwerking en kook van spinasie. Daarom het ek dit goed gedink om vir julle hierdie artikel saam te stel.
Laat somer spinasie is soms geneig om bitter te wees. Veral as mens self spinasie groei kan dit gebeur dat die spinasie droogte kry en dit dan ʼn beskermings meganisme het wat inskop. Om te verhoed dat die plant verdor lyk die plant asof dit verlep is in die middel van die dag sodat die huidmondjies gesluit bly en nie kan respireer of enige voedingstowwe kan opneem. Tydens hierdie langdurige droogte bou daar dus stowwe op en die plant raak bitter. Maak dus seker as jy self spinasie groei dat dit nie droogte beleef.
Nou hoe weet jy in die winkel die spinasie is nie bitter? As die spinasie se blare ontbloot is soos wanneer dit vars gepluk is kan jy ʼn stukkie van die blaar af breek en proe. Dit is die beste opsie. Indien die spinasie verpak is, kan jy dit egter nie doen. Ek glo en vertrou dat die produsente wel goeie kwaliteit produk in die mark sit en dit jou nooit sal oorkom.
Hoe verwerk mens spinasie vir die vrieskas?
Spinasie moet sou gou moontlik verwerk word sodra die gepluk word om te bevries. Spinasie blansjeer baie maklik en vinnig.
Kook ʼn kastrol met genoeg water en sprinkel bietjie sout by.
Spoel die spinasie baie goed af om sand en onsuiwerhede te verwyder. Hou die steel van die spinasie vas en stroop dan die blare van die steel. Plaas die blare in koue water en spoel baie goed af.
Plaas dan vier hande vol blare per keer by die kokende water. Plaas die deksel van die kastrol elke keer oor en kook vir 2 minute en skep die blare uit en plaas in koue water. Verwerk dan al die blare op hierdie manier.
Puree
Druk dan weer hande vol blare in baie stywe bondels aan mekaar en laat in hopies. Neem ʼn mes en sny die bondeltjies in kwarte en weer dwars in kwarte. Plaas dan in voedselverwerker en maak dan fyn na smaak. As jy nie vooraf die spinasie in bondels druk en sny, gaan die spinasie baie draderig wees as dit verwerk word. Wees gewaarsku.
Plaas in bio afbreekbare plastiek en druk al die lug uit en vries in 250g porsies. Hou vir 12 maande in die vrieskas.
Tradisionele spinasie gereg (6 porsies)
8 spinasie blare vars of 250 g spinasie puree
5 medium aartappels
2 medium uie
Sout en peper na smaak
Was en stroop die blare van die stele en kook dan in net genoeg water saam met die geskilde en opgesnyde aartappels en uie ringe totdat die aartappels sag is. Dreineer oortollige vog, maar behou om te vries vir ʼn groente sop aftreksel vir latere gebruik.
Druk die mengsel fyn en voeg sout en peper by. Roer so 4 klontjies botter by.
Spinasie soufflè (8 porsies)
500 g spinasie puree
200 g gaar fyn spek (opsioneel)
3 ekstra groot eiers, geskei
2.5 ml kremetart
150 ml dik witsous (p. 211 of p.25)
150 ml cheddar kaas gerasper en by warm witsous in gemeng
100 g feta kaas, gekrummel
½ t knoffel, fyn gedruk
¼ t neutmuskaat
Voorverhit oond na 170C en berei ʼn glas of keramiek bak voor met gesmelte botter te smeer. Hou eenkant.
Maak die witsous soos per p. 211 of p.25 en meng die koppie kaas by om te smelt
Skei die eiers en klop die eierwitte styf met kremetart. Hou eenkant.
Meng al die bestanddele saam behalwe die eierwitte. Meng alles baie goed deur en vou die eierwitte laaste by. Giet in voorbereide bak en bak vir 45 minute. Bedien dadelik.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 2019