Die maak van eie vrugte konsentrate is eintlik so oud soos die berge en om jou eie te maak is nie so moeilik. Pas ryp vrugte is verkieslik om te gebruik vir hierdie proses en die bottelering van hierdie sappe vir lang raklewe is die doelwit. Maak seker dat alle glasbottels reeds gesteriliseer is, deur dit goed skoon te was en dan vir 20 min by 120 C te hou. Koel af en voltooi die resep.
Stap 1
500 g vrug (reeds geskil en fyn gesnipper) tot 500 g water
Hierdie ratio kan met gemak vermenigvuldig word tov die grootte van jou kastrol se kapasiteit.
Verhit die water en koejawels en kook oor matige hitte totdat die koejawels baie sag en amper soos ʼn pasta is.
Stap 2
Plaas ʼn stukkie kaasdoek of fyn gaas oor ʼn sif of kolander en syg die sap van die moes wat jy gekook het deur.
500 ml sap : 15 ml suurlemoensap of 2.5 ml sitroensuur : 100 g witsuiker (1/2 k)
Meng die bestanddele saam en kook dit vir 5 minute saam. Giet in lou warm bottels en draai styf toe en laat dan eers 15 min af koel.
Verhit ʼn kastrol met water groot genoeg om ʼn paar bottels te neem en die bottels tot halfpad te bedek. Plaas die kastrol se deksel op en kook dan vir 15 minute. Haal bottels uit en plaas onderste bo op ʼn handdoek om af te koel. Plaas ʼn datum op die bottel en sal goed bewaar bly vir 12 maande.
Bron: Annelien Pienaar, www.annelienpienaar.co.za, 2019