Hierdie is ‘n baie vinnige en maklike manier om iets anders maar ook baie spesiaal vir ‘n kleuter te maak wat verjaar. Verder het ons al verskeie kere hierdie koekie in skywe verkoop by skole mark dae en sakke vol geldjies gemaak. Dus, jy kan sommer heerlik met hierdie resep woeker. Verder kan die beslag in balletjies gerol word om individuele koekies te bak. Neem dan net kennis dat die baktyd verkort na ongeveer 12-15 minute as jy 30ml balletjies sou maak.
Koekie basis
115 g (1/2 k) botter of bakkers margarien met 80% vet inhoud, kamertemperatuur
105 g (1/2 k) strooisuiker
1 jumbo groot eier
10 ml (2 t) vanielje geurse
210g ( 1 1/2k) koekmeel
5 ml(1 t) bakpoeier
2.5 ml (1/2 t) koeksoda
Knippie sout
120 g (1/2 k) melk
100 g (1 k) choc chips
Voor verhit oond na 180℃ en smeer ‘n ringkoek pan met los bodem van 25 cm deursnit met pansmeer. Voer die pan dan uit met bakkerspapier. Hou eenkant.
Verroom botter en strooisuiker tot lig en donsig vir 5 minute op hoog. Voeg dan die eier en vanielje geursel by en klits weer goed tot romerig.
Sif die koekmeel, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg by die verroomde mengsel en meng dan met die melk. Vou laaste die sjokolade splinters in.
Druk dan die koekie mengsel in die pan se bodem vas maak seker dit is gelyk en bak dan vir 35 minute tot bruin en bros.
Laat die koekie in die pan afkoel. Verwyder en plaas dan op tertbord.
Sjokolade ganache
175 g gekapte goeie kwaliteit sjokolade gemaak van kakao botter
100 ml room
15 ml botter
Plaas room en 15 ml botter in kastrol en pas dit baie goed op terwyl dit tot kookpunt verhit word. Giet die kokende room oor die sjokolade en roer tot glad. Indien die sjokolade nog nie gesmelt het, verhit effens oor dubbel koker. Verkoel dan tot amper dik en smeer oor die koekie. Versier met lekkers na gelang van u kind se smaak.
Bron: Annelien Pienaar, 2019, www.annelienpienaar.co.za