Een van my moederlief se beste resepte wat blink en deursigtige blokke lewer. Die binnekant is sag en soos jellie met die ferm buite rand. Lees asb hierdie resep sorgvuldig deur en let op die fyn skrif. Makantaan word soms oor 2 dae gekook en dit is belangrik om genoeg tyd vir die maak van hierdie stukke toe te laat. Geniet want die raklewe van hierdie produk is 12 maande en langer.

500 g suiker
500 g vrug
750 ml water gemmer toontjie
½ t sitroensuur of wynsteensuur is baie belangrik om kristal vorming tee te werk

Vir elke 1.5 kg vrugte wat gebruik word, maak nog suiker stroop soos volg aan: 500 g suiker en 750 ml water en ½ t sitroensuur of wynsteensuur. Die stroop raak maklik klaar weens die feit dat die stukke die stroop moet opsuig. Hierdie stroop word net bygevoeg as jy sien die vrugte is nog nie deursigtig nie en die stroop word te dik en min.

1. Skil die makataan af, die groen mag nie wys nie. Die sagte binneste gedeelte moet uitgeskep word en kan fyn konfyt mee gemaak word.

2. Sny die blokke so 4 cm x 4 cm groot. Met ‘n vurk steek reg rondom die blokke gate in. Die gate is baie belangrik sodat al die stroop maksimaal absorbeer kan word.

3. Die blokke moet oornag bros gemaak word. Maak 5 liter water aan met 45 ml koeksoda of gebluste kalk wat by apteke beskikbaar is. Plaas die stukke daar in en druk dit onder die water deur ‘n piering of bordjie bo op te sit sodat dit onder bly. Gebruik asb ‘n erde of plastiek houer om die oornag staan te doen. Die koeksoda het ‘n chemiese reaksie met metaal, so jy wil nie grys makataan kook of metaal proe nie.

4. Die volgende dag spoel jy die blokke af en laat dit vir 2 ure in vars water lê om uit te vars.

5. As jy ‘n stoompot het kan jy die blokke sag kook in die stoom pot, bietjies op ‘n slag. Anders moet jy die blokke sag kook op die stoof soos normaal maar wees gewaarsku, dit kan tot 6 ure neem. Sodra jy ‘n vuurhoutjie met gemak deur die blok kan steek is dit gereed vir die stoop gedeelte.

6. Weeg jou vrugte af en maak die stroop aan. Die suiker en water moet oor stadige hitte gesmelt word, die stroop mag nie kook voordat al die suiker nie opgelos het. Was die kante van die kastrol ook af met ‘n kwassie en skoon water om sandsuiker te voorkom. Voeg nou ‘n opgesnyde toontjie gemmer in moeselien doek by.

7. Voeg die vrugte in klein volumes by die kokende stroop. Die stroop mag nie ophou kook nie, sodra jy sien dat dit stadiger kook wag eers voordat jy weer vrugte in sit. Hou so aan totdat al die vrugte bygevoeg is.

8. Kook die vrugte totdat glansend, hierdie proses neem nogal lank. As die vrugte nog nie deursigtig is en die stroop is amper klaar, maak dan die ekstra stroop aan en voeg dit kokend by die kokende blokke.

9. Na hierdie byvoeging kan die sitroensuur of wynsteensuur bygevoeg word. Ek ondervind deurlopend dat daar geen sandsuiker vorm as ek dit teen die einde van die kook proses byvoeg nie.

10. Bottel warm. NOTA My ma het soms die stukke halfpad gekook en dan oornag laat staan om nog stroop op te trek. Die volgende dag het sy die blokke uit geskep en die stroop weer verhit, dan weer die stukke bietjie vir bietjie by die kokende stroop gesit. Haar blokke was deursigtig en blink! Makataan se ander name is ook, Karkoer of Kafferwaatlemoen.

Bron: Annelien Pienaar 1996, www.annelienpienaar.co.za