Druiwe konfyt is baie vinnig en maklik om te kook. MAAR as jy druiwe kies met pitte is dit natuurlik nou ‘n kopseer wat moontlik wag…MAAR daar is makliker oplossings vir hierdie probleem. Vir die kook van fyn druiwe konfyt kan die druiwe korrels vooraf eers in kwarte gesny word sodat die pitte ontbloot word. Soos die druiwe kook en jy skuim af skep, sal die pitte na bo dryf en so maklik opgeskep word. Die druiwe se skilletjies sal ook sag kook tydens hierdie proses, dus nie nodig om in water vooraf sag te kook.

My gunsteling druif om te gebruik is Hanepoot of Sultana’s vir die unieke smaak wat dit gee. Jy kan egter ook minder soet druiwe soos Pinotage gebruik. Vir Glippertjie konfyt word die vleis uit die doppies gedruik maar maak seker dat jy die sagte jellie lagie wat binne in die doppie vas sit ook uit druk. Dan vir die glippertjies, bind die doppies in ‘n moeselien sakkie en kook dan saam met die konfyt sodat die geur van die dope in die konfyt “infuse”. Sodra die konfyt gereed is, vewyder net die sakkie. Glippertjie skilletjies is baie taai en kook nie sag.

1 kg druiwe in kwarte gesny
750 g wit suiker
250 ml water
45 ml suurlemoensap

Giet die water en suiker oor die gesnyde vruggies. Los dit oornag om vog uit die druiwe te trek. Verhit die volgende dag die mengsel oor lae hitte sodat die suiker korrels opgelos het. Kook die vrugte vinnig totdat dit 103 ℃ bereik of verdik het. Skep ‘n bietjie van die konfyt op ‘n koue piering uit indien jy nie ‘n thermometer het. As die konfyt dik geword het op die piering is dit gereed om gebottel te word. Onthou om tydens die kook proses die skuim versigtig af te skep saam met die pitjies wat bo dryf. Die skuim moet verwyder word sodat die eindproduk nie sal gis in die bottel.

Onthou om altyd goeie sterilisasie procedures in plek te he rakende die bottels. Bottels moet in seep water gewas word en goed gespoel wees. Plaas in oond vir 30 minute by 120℃ om te steriliseer asook die deksels. Moet nooit direk in die prop of bottel raak want so kan kontaminasie ook plaasvind.

Sodra die bottel toe gedraai is, draai die taai bottel op sy kop en los om goed af te koel. As die bottel warm af gevee word sal dit bars.

Bron: Annelien Pienaar, 2019, 4 x 375 ml bottels