My eerste kennismaking met amandel geursel was nie baie positief en die gedagte daaraan het my rillings gegee…tot eendag! ‘n Vriendin bring van oorsee vir my Ameretti koekies en ek kon nie genoeg kry van hierdie heerlike koekies. Sy het die koekies uit die verpakking gehaal en in ‘n mooi glas botteltjie verpak om my te flous en oor my fobie te kry. So vra ek haar hierdie ongelooflike koekie se naam…by nadere ondersoek…Amandel koekies! Ek het so 6 maande lank gewoeker aan hierdie resep en dit bak keer op keer heerlik. Geen vang plekke, net die geheim is om jou bestanddele te weeg.
200 g rou amandels
225 g strooisuiker
75 g koekmeel
2 eierwitte, jumbo of 100 g by kamer temperatuur
2.5 ml amandel geursel (kan met vanielje geursel vervang word)
Voor verhit oond na 160 ℃ en berei twee bakplate voor met koekpan smeer uit die Boerekos met n Twist kookboek p. 11
Kook ‘n kastrol met water en sodra dit kook dompel die amandels in die water om die velletjies los te kry. Letterlik net soos om te blansjeer vir 1-2 minute. Skep die amandels in ‘n vergittes en keer uit op ‘n vadoek. Vou die amandels toe in die vadoek en vryf liggies om die velletjies te verwyder. Spoel weer af as daar velletjies vas klou met lou water. Vryf droog en rooster in die oond op ‘n silikoon vel of op bakpapier vir 10 minute. Die amandels moenie bruin word.
Sprinkel die amandels deur die koekmeel oor dit te sif en draai die oond temperatuur op na 180 ℃ vir 5 minute. Keer die amandels uit op ‘n koue bakplaat en laat goed afkoel. Skakel die oond af.
Plaas die amandels en helfte van die strooisuiker in ‘n voedsel verwerker en kap tot baie fyn soos vir amandel meel.
Vee die mengbak waarin jy gaan klits met asyn uit om olierigheid te verwyder. Klits die eierwitte tot ‘n sagte punt stadium…moet ‘n sagte punt vorm sonder om te verdwyn. Klits die oorblywende strooisuiker stadig by totdat die mengsel ‘n baie stywe punt vorm.
Gebruik ‘n deeg skraper en vou die amandels en amandel geursel by. Moenie te veel meng nie, maak seker die mengsel kom net-net by mekaar.
Skep die mengsel in ‘n spuitsak met of sonder n ronde punt van ongeveer 15-20 mm opening. Hou die spuitsak loodreg tot die pan en tel drie tellings terwyl jy liggies druk. Spasieer die sirkeltjies wat jy spuit ongeveer 3 cm uit mekaar.
Sprinkel die koekies liggies met versiersuiker en laat die koekies by kamer temperatuur droog vir 2 ure.
Bak die koekies vir 15 minute by 160 ℃.
Annelien Pienaar, Januarie 2019, Boerekos met ‘n Twist
Lyk heerlik
Een van my persoonlike gunstelinge saam met ‘n soet likeurtjie… geniet.