Een van my en my moederlief se gunsteling fyn gebak happies, was hierdie “Vrugtekoek tertjies” soos ons dit aan huis genoem het. Hierdie tertjie het ‘n baie interessante kors wat met kaneel en amandel meel onder andere berei word. Botter is verseker die eerste opsie vir die heerlike deeg se bereiding en werk met hierdie resep so koud as moontlik. Daar kom alkohol in die resep maar kan net vervang word met ‘n geursel van eie keuse. Die karamel suiker trou wonderlik met die brandewyn en vrugte en die bo-laag is anders en nie die gebruiklike kors nie. Dit is ‘n loop beslag wat oor die vrugte mengsel gegiet word en maak ‘n mooi doppie vir netjies afronding nadat dit gebak is.

Deeg
280 g koekmeel
75 g versiersuiker
5 ml fyn kaneel
175 g botter of bakkers margarien met 80 % vet inhoud
50 g amandels, fyn gemaal
1 eier geel
45 ml melk

Sif die koekmeel, versiersuiker, kaneel saam in ‘n mengbak van ‘n voedsel verwerker of klits soos gewoon. Voeg die botter en amandels by en draai die lem totdat die botter soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die eier en die melk by en meng liggies met vingerpunte totdat die deeg by mekaar kom. Deel die deeg in twee en druk plat tussen waspapier lae en verkoel vir 30 minute.

Rol die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlakte uit of tussen waspapier lae sonder meel, tot ongeveer 3 mm dik. Druk die deeg plat binne ‘n toe gevoude stuk waspapier en rol dan die deeg daar binne. Dit help veral in die warmer dae dat die deeg nie vas plak en jy dalk geneig is om te veel meel te gebruik. Verg bietjie oefening maar as jy eers aan die tegniek gewoond is sal jy nooit weer dit anders doen.

Druk die sirkel uit met ‘n riffel randjie ronde drukkertjie wat groot genoeg gaan wees om netjies tot bo by die rand van ‘n kolwyntjie pannetjie uit te steek. Druk 36 degies uit en plaas in verkoelde pannetjies. Druk die degies liggies in die kolwyntjie holtes vas. Bedek en hou in die yskas.

Vulsel
175 g fyn gekapte amandels of enige ander neuter
150 g gedroogde appelkose, fyn gekap
175 g rosyne
150 g rooibosbessies (cranberries)
150 g glans kersies op gekap
150 g sitrus skil (dit kan uitgelaat word indien verkies en met ‘n ander bestanddeel vervang word soos gelys onder vulsel)
30 ml Brandewyn of sjerrie (kan eenvoudig net uit gelaat word en met vanielje of rum ekstrak vervang word)

Hierdie vulsel kan ook vervang word met 500 g – 800 g koekvrugte soos vir die bak van Vrugtekoeke.

Meng al die bestanddele saam en hou eenkant.

Voor verhit oond tot 190 C.

Bolaag
200 g treacle sugar, demarera of muscavado
10 ml gemaalde all spice
115 g botter of bakkersmargarien van 80 % vet inhoud
2 ekstra groot of jumbo eiers
140 g koekmeel
10 ml bakpoeier
2.5 ml koeksoda

Plaas al die bestanddele in ‘n menger en klits tot romerig en goed deur gemeng. Hou eenkant bedek.

Haal die muffin panne uit die yskas en vul met vrugte mengsel half vol.

Begin om 1 e van die bo-laag mengsel oor die 36 tertjies te skep…verdeel die bo-laag eweredig tussen die 36 tertjies.

Bak die tertjies vir 20-30 minute tot die doppie droog is. Laat afkoel binne pan vir 10 minute en skep uit op draad rakke om eweredig af te koel. Maak nou die versiersel laag aan en berei ‘n spuitsak met dunste haar fyn puntjie voor of neem net ‘n plastiek sakkie en maak klein gaatjie sodat die glans versiersel maklik in dun straaltjie oor die pasteitjies.

Versiersel
115 g versiersuiker gesif
15-30 ml suurlemoensap, begin met 1 e en meng vir 2 minute en besluit of dit te dik is en voeg eers ‘n halwe eetlepel. Toets die mengsel en skep ‘n eetlepel vol op en maak ‘n zig-zag patron op die versiersuiker en tel tot 5 stadig en dit moet nog so effe wys en dan verdwyn.

Lekker eet en hierdie tertjies kan met groot sukses gevries word vir 6 maande sonder die versiersel.

Bron: Annelien Pienaar, Kersfees 2018
Hoeveelheid: 36