Fluweelsag en smelt in die mond lekker.  Die koekie self is nie baie soet en die wonderlike koffie gegeurde botterversiersel bring die soet in, wanneer die koekies twee twee op mekaar geplak word. Perfek gebalanseer om die gaste se smaak kliere te bekoor. . Hierdie resep kan met gemak verdubbel word vir groter hoeveelhede.

500 g botter
125 g sonneblom olie
215 g versiersuiker
2.5 ml vanielje geursel
560 g koekmeel
120 g mielieblom

Vulsel
15 ml fyn gemaalde koffie bone van keuse
60 ml room
75 g sagte botter
115 g versiersuiker, gesif

Voor verhit oond na 180 C en smeer twee rolkoek grootte panne met pansmeer uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek of gebruik silikoon bakkersvelle op die webtuiste.

Klop die botter, olie, versiersuiker en vanielje saam tot baie lig en donsig.

Sif die koekmeel en mielieblom saam. Klop met die k-haak, indien jy met ‘n staan menger werk totdat die beslag net bymekaar kom. Skep in ‘n spuitsak waarvan jy ‘n groot ster spuitpunt ingesit het.

Indien jy warm hande het, maak dit eers koel in yswater. Wanneer jy hierdie koekie spuit moet die deeg nie warm word nie.

Sodra die koekies gespuit is (40 ongeveer), plaas die koekies vir 10 minute in die vrieskas. Bak dan vir 12-15 minute tot ligte bruin. Laat goed afkoel voordat jy vul.

Vulsel: Plaas die koffie in ‘n bakkie en verhit die room net tot onder kookpunt en giet oor die koffie. Laat staan vir 4 minute en dreineer deur fyn tee siffie.

Klop die botter, versiersuiker en koffie gegeurde room tot baie lig en donsig. Voeg ‘n knippie sout by om die ergste soet te breek. Spuit ruimskoots van die vulsel op die koekies en druk op mekaar. Soms voeg ek bietjie rum geursel by hierdie koffie mengsel en ongelooflik heerlik. Glanskersies en neute kan ook in die middel van die koekies gedruk word voordat dit gebak word vir ekstra kleur gedurende die feestyd.

Bron: Annelien Pienaar, 2018, Geskenke uit jou Koskas klas
Hoeveelheid: 40 halwes en 20 hele koekies op mekaar geplak.