Die perfekte soet happie met ‘n kombinasie van neute en sjokolade. Die bolletjies behou hul koepel vormpies en die neute bak bros en krakerig.

150 g botter
115 g strooisuiker
1 eiergeel
2.5 ml of minder amandel ekstrak
115 g pekans
175 g koekmeel
100 g bakkers sjokolade (nie eet sjokolade)

Voor verhit oond na 160C en smeer twee bakplate met pansmeer uit die BKT kookboek of gebruik ‘n silikoon bakkersvel. Verroom die botter en suiker tot lig en donsig vir 5 minute op hoog.

Klop die eiergeel en geursel by.

Meng die pekans en koekmeel saam en as jy met ‘n staan menger werk gebruik die k-haak om die meel mengsel by die geroomde mengsel te voeg en deur te werk. Anders kan jy met ‘n deeg skraper of houtlepel die mengsel meng.

Verdeel die mengsel in 15 ml balletjies en rol perfek rond. Spasieer ongeveer 3 cm uit mekaar.

Bak die koekies vir 20 minute. Laat 5 minute afkoel en plaas op afkoel rakkie. Die koekies moet koud wees as jy die sjokolade wil doen…anders gaan die sjokolade nie vas klou.

Versiering van koekies
100 g smelt sjokolade
100 g fyn pekan neuter

Smelt die sjokolade oor ‘n dubbel koker. Sodra gesmelt doop die koekie se een helfte in die sjokolade en vee dan die boudjie af op die rand van die mengbak of kastrol.

Neem die koekie en druk dan in fyn gekapte pekans. Plaas op silikoonvel of bakpapier en laat stol. Die oorblywende sjokolade kan in ‘n sakkie soos ‘n ziplock sakkie geplaas word en dan die puntjie van die sakkie afsny en druk dan die sjokolade uit op die koekies.

Jy kan ook die koekies aan mekaar vasplak veral as jy kleiner maak…dit is waar die naam ladies kisses vandaan kom…lyk soos twee lippies.

Stoor die koekies lugdig in die yskas of vrieskas.

Bron: Annelien Pienaar, 2018, Geskenke uit jou koskas