Niemand is seker wat die oorsprong van die Bienenstich is nie maar, by oorlewering is daar twee stories. Nommer een was dit ‘n bakker wat besig was om die brioche deeg met heuning te maak toe ‘n by hom kom pla en dit toe vernoem. Die tweede storie vertel van ‘n groep mense wat aan geval was en het toe bye korwe na die vyand gegooi om hul uit hul dorpie te hou. Om hul oorwinning te vier het hul die Bienenstich gebak en so ook elke jaar om dit te herdenk.

Brioche basis (soet brood)
500 g koekmeel
45 g water
250 g eiers (ongeveer 4)
2.5 ml sout
15 ml wit suiker
5 g kitsgis
250 g botter (bakkers margarien met 80% vet inhoud)

Nota: alle bestanddele vir hierdie resep moet koud wees, behalwe die botter wat so sag soos speelklei moet wees. Die meng proses is redelik lank en hitte word gegenereer. Wanneer die botter ingewerk word en die bestanddele was warm gaan die botter eerder ‘n taai en kluitjie brood gee. Plaas al jou bestanddele nadat jy af geweeg het in die yskas.

1. Plaas al die bestanddele behalwe die botter in ‘n mengbak. Indien jy met die hand meng hou maar die hande koel deur in yswater te druk van tyd tot tyd indien jy geneig is om warm hande te hê. Gebruik asb die deeghaak (lyk soos ‘n omgekeerde vraagteken) vir staan mengers asb.

2. Meng die bestanddele saam tot ‘n stewige deeg en tot al die droe dele bymekaar gekom het. Rus die deeg in die yskas vir 30 minute en haal uit. Knie die deeg tot glad en elasties vir 5 minute met die masjien en 8 minute met die hand.

3. Neem die botter en slaan dit plat tussen twee lae bakpapier totdat dit soos speelklei buig. Voeg dan stukkie vir stukkie van die botter by terwyl daar geknie word. Gee so tien tellings voor jy die volgende stukkie byvoeg. Hierdie is ‘n belangrike stap vir die perfekte deeg.

4. Jy gaan vind dat die deeg nie lekker bymekaar wil kom en van mekaar gly. Werk stadig en neem jou tyd, die deeg sal weer saam kom. Knie die deeg weer vir 5 minute en doen die venster toets of die deeg genoeg geknie is. Neem ‘n stukkie deeg so groot soos ‘n hoender eier. Maak jou vingers nat en trek die deeg sodat dit langer word, die deeg moet so dun word sonder om te breek soos ‘n ballon vliesie. Rus die deeg dan oornag. Knie die deeg een maal af soos dit rus in die yskas…onthou die yskas vertraag net die rys proses.

5. Volgende dag: rol die koue deeg uit in ‘n sirkel of reghoek soos dit jou pas. Rus vir 5 minute. Plaas die ringkoek pan op die deeg en sny die deeg aan die buite kant van die pan. Sit die pan met of sonder bodem op ‘n bakplaat wat met bakpapier of silikoon vel uitgevoer is. Plaas die deeg daarop en sit die pan oor die deeg sodat die deeg presies in die pan lê, sonder dat die deeg van die kante los kom. Rys die deeg vir 60 minute by kamertemperatuur. *Dit is egter belangrik om so min as moontlik deeg af te sny anders gaan die brood basis nie dik genoeg wees om deur te sny.

6. Berei die Amandel bo-laag en skep baie versigtig op die uit gerysde deeg en bak vir 25 minute by 190 C. Sodra die deeg uit die oond kom, sny die Amandel bolaag versigtig deur, maar maak seker jy sny die brood nie raak. Dit help om later die koek mooi netjies te sny. Onthou die Amandel laag karameliseer en maak dit moeilik om netjies te sny as dit geset het. As jy dit nie doen gaan die Vlavulsel letterlik uit peul as jy die koek wil sny. Laat die basis dan baie goed afkoel en verdeel dit dan in ‘n bo en onder laag.

Amandel bo-laag
100 g botter
100 g witsuiker
25 g heuning
20 g volroom melk
100 g amandel vlokkies

1. Plaas die botter, suiker, heuning en melk in ‘n klein kastrolletjie. Kook die mengsel totdat dit 110 C bereik. Verwyder van hitte en voeg die amandels by en roer goed deur.

2. Roer af en toe terwyl die mengsel afkoel sodat die amandels eweredig versprei kan wees.

Vlavulsel
455 g melk
60 g wit suiker
60 g botter
120 g ongeveer 4 ekstra groot eiers
5 ml vanielje geursel of 1 vanielje peul in melk gekook en saadjies uit geskraap
40 g mielieblom
60 g wit suiker

1. Smeer ‘n dikboom kastrol van keuse wat nie maklik aanbrand op plaat. Smeer die bodem van die kastrol eers met olie of botter om aanbrand te voorkom. Voeg die melk met 60 g suiker in die kastrol en verhit tot onder kookpunt en roer gereeld om aanbrand te voorkom. Terwyl die melk op die plaat is…

2. Klits die eiers, vanilla en 60 g suiker saam. Voeg die sif die mielieblom by en klits tot glad.

3. Voeg ‘n bietjie kokende melk by die eiermengsel en klits goed. Roer met ‘n houtlepel die melk sodat dit in die pot ‘n maalkolk maak. Giet die vla in die middel van die draaikolk en roer met draadklitser. Kook vir presies 2 minute en verwyder van hitte. Skep uit in glasbak en bedek die vla met ‘n stukkie kleefplastiek. Laat goed afkoel en hou in die yskas tot benodig.

Finale vulsel
500 g Vla vulsel
170 ml Room styf geklits
5 g gelatien poeier

1. Sprinkel die gelatien in 50 ml water en rus vir 10 minute. Plaas die bakkie waarin jy die gelatien hidreer het in warm kook water sodat die gelatien kan oplos. Maak dood seker die mengsel lyk soos heuning en mooi glad.

2. Nou kom die moeilike deel. Werk so vinnig as wat jy kan. Die koue vlavulsel gaan die gelatien baie gou laat set.

3. Klop die koue vlavulsel tot glad. Vou die styf geklitsde room by. Vou laaste die gelatien by.

4. Skep die vulsel in ‘n spuitsak sonder of met ‘n ronde groot punt.

Aan mekaar sit van Bienenstich
1. Plaas die brood basis terug in die pan waarin jy gebak het. Spuit die vla vulsel op die basis en plaas die amandel deksel terug. Laat die koek in die yskas set vir 4 ure.

Bron: Annelien Pienaar, 2018