Hierdie aartappel pasta balletjies is seker vir ons gesin een van die veelsydigste items op die weeklikse spyskaart. Soms word die Gnocchi net met ‘n pesto bedien…ander kere weer met ‘n heerlike bolognaise sous of soms met ‘n hoender room sous. Soms bak ek dit met kaas oor soms net skoon. Maar daar is ‘n paar kinkels wat ek moet uitwys. Nee, dit is glad nie ‘n moeilike resep nie…die geheim van hierdie pasta is die feit dat die aartappels in hul jassies gekook moet word en dadelik as dit sag en gaar is…in koue water te dompel en dadelik te skil en verwerk. Die aartappel moet onder geen omstandighede sonder die jassie gekook word want dan eindig jy met te veel vog in die kappok aartappels op. Dus dit is die kruks van hierdie eenvoudige gereg.
1 kg aartappels gekook, in skil
300 g koekmeel
1 eier
1/4 t neutmuskaat
1 t gedroogde kruie van keuse (my gunsteling is dille, tiemie of origano)
1 t sout
Kook die aartappels in die skil tot sag en gaar. Trek die skille af en moenie die aartappels in die water laat lê. Maak fyn deur ‘n rice masher te gebruik vir perfekte fyn aartappels of die voedsel verwerker. Maak asb seker dat die mengesel super fyn is. As jy sukkel vryf die aartappels deur ‘n sif.
Meng al die bestanddele by die aartappel en knie liggies. Hier is die ander deel van die resep: Moenie die deeg te veel knie nie. Die deeg moet van so ‘n aard wees as dit bymekaar kom moet jy dit dan in bolletjies kan rol sonder om vas te sit.
Deel die mengsel in 4 en rol dan lang toue van ongeveer 3cm dik. Neem dan jy indeks vinger en sny dan die rolle met jou vinger mate in ongeveer 3 cm repies. Indien jy nie ‘n tekstuur plaat het soos ‘n outydse botter spaan kan jy ‘n vurk se agter kant ook gebruik om die patroontjies op die gnocchi te maak.
Die rou gnocchi kan nou gevries word of gekook word. Indien jy bevries, vries met lae waspapier tussen in vir 6 maande.
Indien die Gnocchi gekook word: vul ‘n katrol met genoeg water sodat dit die Gnocchi bedek met ongeveer 5 keer die gnocchi se dikte. Voeg sout en olyf olie in die water. Onthou ons kook hierdie soos ‘n pasta. MAAR hierdie pasta kook letterlik net 2 minute. Sodra jy so 12 stukkies in die kokende water geplaas het sal jy sien na ‘n minuut die gnocchi begin te dryf. As die gnocchi dryf skep dadelik uit en dreineer. As jy die gnocchi te lank kook gaan dit uit mekaar val en ‘n pappery wees. Dus, pas die kastrol mooi op, moenie weg beweeg.
Bedien met ‘n heerlike Pesto uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek
Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 4 porsies indien dit ‘n enigste gereg is of 6-8 porsies as dit bedien word met ‘n protein en sous by.