Brosbrood koekies

Brosbrood koekies

Die geheim van hierdie koekie is die bestanddele wat by kamertemperatuur gebruik word. Botter maak die beste koekies omdat die melksuikers wat nog in die botter teenwoordig is ‘n egte botter karamel smaak aan die koekie verleen. Ek het onlangs ‘n studie gedoen oor bakkers margarien en bevind dat mens maar moet kyk wat agter op die ettiket geskryf staan. Jy moet kyk na ‘n vetinhoud van 80%, want laer as dit gaan daar meer vog in die margarien wees en nie gewensde resultate lewer.

500 g botter of goeie kwaliteit bakkers margarien met 80% vetinhoud, moet by kamertemperatuur wees en sag. Indien jy vergeet het om die smeer betyds uit te haal kan jy dit rasper om gouer sag te word.
210 g (1 k) strooisuiker
700 g (5 k) koekmeel
20 g (3 e) mielieblom
Ekstra strooisuiker vir sprinkel

Voor verhit oond na 190C en berei bakplate voor met silikoon bakkersvelle.

Verroom die botter en strooisuiker saam tot baie lig een donsig en die suiker opgelos. Neem jou tyd hier want die tekstuur van die koekie word bepaal hoe goed of sleg dit gaan wees…dus werk ek op so 10 minute per hand klitser en staan menger so 8 minute. Vir staan mengers gebruik die K-haak van begin tot einde.

Voeg dan geurmiddel van keuse by. Sien asb die VARIASIE indien jy wil geure in bring. Klop goed deur.

Voeg die koekmeel en mielieblom wat vooraf saam gesif is by. Meng met die menger totdat die deeg by mekaar kom.

Haal uit en knie liggies met die hand om eenvormig te word vir ‘n minuut. Bedek en rus 30 minute.

Rol ongeveer 1 cm dik uit sonder meel op die oppervlakte. Die deeg is olierig en jy kan die vormpies met ‘n messie lig. Vir die doel van die foto het ek die deeg in baie klein lang worsies gerol en op ‘n koue bakplaat gesit om hard te word…weer terug in die vrieskas. Dan in wiele gesny en so gebak. Hierdie deeg is wonderlike speel deeg vir klein handjies wat lief is vir speel saam met jou in die kombuis. Sprinkel die koekies met ekstra strooisuiker.

Bak vir 10-15 min in oond.

Variasie:
Suurlemoen: 10 ml suurlemoen zest met 2 t suurlemoensap
Enige geursel: 10 ml

Bron: Annelien Pienaar, 2018, Kinder kookklas

2018-10-06T20:30:12+00:002 Comments

2 Comments

  1. Elba Marx October 17, 2018 at 2:59 pm - Reply

    Dis die lekkerste brosbrood koekies. Kan ek die klaar gebakte koekies vries.

    • Annelien October 18, 2018 at 8:20 am - Reply

      Jy kan die koekies vir ‘n periode van 6 maande in ‘n lugdigte houer bewaar in die vrieskas. Geniet…

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.