Soms het mens net lus vir ‘n kombinasie van geure en smake wat jou aan kleintyd herinner. My moederlief het gereeld die Flan panne uitgehaal en dan bak sy hierdie heerlike resep. Op ‘n keer vind ek my man die panne gebruik vir die troeteldiere se kosbakke. Groot was sy verbasing toe hy hoor dit is koekpanne. Hy het so ewe gevra wie bak nou koeke met gate in? Wel, daardie gate wat ons bak is waar die heerlikste vulsels ingesit kan word. My gunsteling variasie op hierdie resep: Nadat die karamel laag gedoen is, om skyfies piesang wat in suurlemoensap geweek was op te sit en dan met room af te rond..so ‘n effe van ‘n kroek vir ‘n “Banoffee pie” soos die Amerikaners dit noem.

Die beslag is genoeg vir twee 20 cm flan pannetjies. Onthou die vorm van die flan pannetjies veroorsaak dat die koeke nie baie lank bak nie, want anders word die koek te droog. So as jy slim wil wees en jou gewone koekbeslag wat altyd vir jou werk wil gebruik, sal jy mooi moet kyk na die tyd asb.

200 g koekmeel
5ml (1 t) bakpoeier
knippie sout
4 eiers
15 ml (1 e) suurlemoensap
200 g (1 k) strooisuiker
50 ml kakao aangemaak met 100 ml kookwater (vir vanielje koek variasie moet die kakao met mielieblom, maizena vervang word, moenie die maizena met warm water aan maak nie, roer net by kraanwater)
10 ml vanielje geursel
knippie sout
1 x Caramel treat

Stroop vir flan
200 ml kookwater
1 e koffie poeier van keuse
4 e suiker
Meng die bestanddele saam

1. Voorverhit oond tot 200 ˚C.
2.Smeer twee flanpannetjies met pansmeer. Pansmeer sal verseker dat die dun lagie in die middle nie vasbrand.
3. Sif koekmeel, sout en bakpoeier saam.
4. Klits eiers tot lig en skuimerig en klits dan suurlemoensap by.
5. Voeg die suiker geleidelik by en klits baie goed sodat die suiker kan oplos, die mengsel moet liggeel en donsig wees.
6. Vou een helfte van die meelmengsel in deur dit eers oor die eiermengsel te sif. Herhaal met die ander helfte.
7. Gooi die beslag in die voorbereide flan panne en bak vir 15-20 minute. Maak solank die stroop aan want dit moet warm oor die koek geverf word. Laat die flans vir 5 min afkoel, keer uit op draad rakkie en verf met ‘n kwassie die koffie stroop oor.
8. Laat flans goed afkoel voor vulsels ingesit word.
9. Sodra verkoel, klits die caramel goed deur

Room vulsel
250 ml vars room (NIE langlewe room nie)
5 e strooisuiker
100 ml Amarula likeur (of enige ander room likeur van keuse), indien u nie alkohol mag gebruik vervang dan net met die essence weergawe.
1 t gelatien opgelos in 50 ml kookwater

Klits die room met die strooisuiker tot amper styf, en voeg die likeur en gesmelte gelatien by. Klits verder tot styf. Die rede vir die gelatien is om die room te stabiliseer sodat dit nie maklik smelt nie.

Skep op die karamel en laat goed verkoel voor bediening.

Bron: Annelien Pienaar, 2018
Hoeveelheid: 2 flans genoeg vir 6-8 gaste