Een van my gunsteling koeke ooit! Ek is gek oor room, sjokolade en neute gekombineer en hierdie koek het al drie bestanddele in. Die meringue lae kan gevries word en gebruik word soos nodig. Nog ‘n bederf in hierdie resep is die feit dat die ganache bevries kan word vir latere gebruik. Kom ons begin.

150 g gemaalde neute meel van keuse (pecans of amandels)
15 g mielieblom
300 g strooisuiker (meet 6 e strooisuiker uit en hou eenkant vir die meringue)
6 eierwitte, groot
½ t kremetart
1 aanmaak van ganache

Voorverhit oond na 120 ℃. Plaas Silikoon bakkersvel in panne.

Meng die neutemeel met mielieblom en oorblywende strooisuiker. Verdeel in drie eweredige hopies.

Klop eierwitte tot net voor stywe punt stadium met kremetart. Voeg die 6 e strooisuiker by en klits tot glansend vir ongeveer 30 sekondes. Mengsel moet punte behou.

Vou die neutemeel mengsel in sarsies van drie by. Vou in met deegskraper, moenie te veel vou nie anders word die mengsel loperig.

Spuit drie sirkels van 20 cm elk. Droog in oond vir 50-60 minute tot hard. Alternatiewelik kan twee swissroll panne gebruik word wat met Silikoon bakkersvelle uitgevoer is en dan met meringue gespuit word…dan kry jy ‘n reghoekige of vierkantige koek. Sny vierkante dadelik as meringue uit die oond kom…as afgekoel sny dit baie moeiliker.

Laat afkoel en plak lae met ganache aan mekaar. Tydsbrekening is alles met ganache. Jy sal wel gou die kunsies van ganache versiersel onder die knie kry.

Laat oornag rus voor bediening om sag te word.

Ganache
Onthou: jy kan enige kleur sjokolade gebruik. Wit word oorspronklik gebruik.

175 g gekapte goeie kwaliteit sjokolade gemaak van kakao botter
75 ml room
15 ml botter
100 g botter ekstra, sag en by kamertemperatuur *moet eers later bygevoeg word, hou eenkant)

Plaas room en 15 ml botter in kastrol en pas dit baie goed op terwyl dit tot kookpunt verhit word. Giet die kokende room oor die sjokolade en roer tot glad. Indien die sjokolade nog nie gesmelt het, verhit effens oor dubbel koker.

Laat afkoel tot 14 ℃ en klits met die res van die botter tot lig en romerig, gebruik dadelik. Indien die ganache begin set, kan jy dit net vinnig in bak met kookwater dompel en weer met draadklitser deur roer om smeerbaar te raak.

Variasie vir ander koeke kan die ganache warm sonder die ekstra 100g botter oor koeke gegiet word. Dit stol pragtig met ‘n mooi blink glans. Verder kan hierdie ganache ook gevorm word in truffle balletjies en in goeie kwaliteit sjokolade gedoop word. Hierdie ganache kan 1 week verkoel word of vir 3 maande bevries word.

Bron: Annelien Pienaar, uittreksel uit die Meringue klas van 2018