Ek wonder of hierdie skonsie nie dalk sy ontstaan gehad het weens geldelike nood en kosvoorrade wat min was in die ou dae. Ek het in my lewe al soveel variasies op hierdie veelsydige degie gesien dat dit my aan die dink gesit het. Onlangs met ‘n Koekverkoping by een van die Filistyne se skole, het ek hierdie worsie in ‘’n muffin gebak en in bakkies met tamatiesous bedien. Jy kan basies enige iets in die degie sit. Van goedkoop bestanddele, oorskiet vleis tot luukse kase! Ek het nog ‘n stappie verder gegaan en een aand met hierdie einste beslag sout wafels gebak. Ek het 1 kkaas in die beslag in gerasper asook blomkool blommetjies fyn gerasper (1/2 k) by…vele aanwendings.
Wat net ongelooflik is, is die feit dat die happie so maklik is om te maak. Min moeite. Kosblik happies, vingerhappies…
WEnk: sny rooiworsies of enige worsie in 5 stukkies en druk dit met die punte na bo binne in die mini kolwyntjie pannetjies.
140 g (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
5 mℓ (1 t) sout
250 ml (1 k) melk
125 ml (½ k) sonneblom olie
2 eiers – geklits
12 gerookte rooiworsies in kwarte gesny of
500 g gaar maalvleis Maalvleis vulsel vir pasteie of Kerrie maalvleis
Voorverhit oond na 180 ℃ en berei mini kolwyntjie pannetjies met Koekepanne smeer voor.
Klits al die bestanddele saam tot glad. Giet in maatbeker met tuit om in die pannetjies te skink…
Giet die kolwyntjie pannetjies ongeveer ¾ vol en druk dan ‘’n worsie in die middel van die beslag.
Bak vir 10 – 15 minute tot gaar en gestol. Laat afkoel in pan en bedien met tamatiesous.
Marmite topping: 3 e marmite of bovril met 5 e botter gesmelt.
Bron: Annelien Pienaar, 2016, www.bosenbergguestfarm.co.za
Hoeveelheid: Ongeveer 48.