Hierdie is ‘n eenvoudige botterkoek mengsel wat afgerond word met gesmelte botter en Marmite, Bovril of Vegemite. Die beslag kan met gemak verdubbel word vir groter volumes. Bovril is word van vleis ekstrakte gemaak en Marmite is ‘n gis ekstrak. Ek gebruik Marmite omdat ek hou van ‘n sterk smaak…indien jy nie van die smaak hou kan Bovril gebruik word.

115 g (½ k) botter of bakkersmargarien, kamertemperatuur
200 g (1 k) wit suiker
1 jumbo eier
140 g (1 k) koekmeel
2 t (10 ml) bakpoeier
250 ml (1 k) melk

Voorverhit oond na 180 ℃ en smeer een tertbak rond of reghoekig met mates van 23 cm deursnit met Pansmeer.

Klits die botter en suiker saam tot romerig vir ongeveer 5 minute. Indien jy vergeet het om die botter of margarien by kamertemperatuur te laat kom. Kan jy dit rasper. Neem die mengbak waarin jy gaan klits en plaas dit eers in warm kraan water. Droog af en klits soos normaal.

Voeg die eier by en klits weer goed deur.

Sif die koekmeel en bakpoeier saam. Vou die meel en melk by die eiermengsel in mbv ‘n draadklitser. Skep in gesmeerde bak en bak vir 30-40 minute tot gaar in die middel.

Net voor die koek uit die oond kom, smelt in die mikrogolf oond 100 g botter en roer dan 1 e van jou keuse van ekstrak by. Giet oor warm koek en laat afkoel. Sodra die koek koud is kan fyn parmassaan of ‘n sterk cheddar fyn oor gerasper word.

Bron: Annelien Pienaar, 2011
Hoeveelheid: 4-6 porsies