Jare gelede het ek ‘n weergawe van hierdie koek op ‘n oorsese reis gesien. Ek kon tot vandag toe nie die koek presies soos daardie meester chocolatiers mimiek nie. Ek het my eie logiese kinkel op dit wat ek gesien het in gebring. Oral waar ek kuier en die koek saam neem is dit ‘n verwondering oor die eenvoudige versierde koek en dan word dit gesny…moet nooit iemand op sy baadjie takseer nie, so ook vir ‘n eenvoudige versierde koek soos hierdie. Mag jy ure se kuier genot met jou hartsmense geniet rondom hierdie koek en lekker koffie. Raai wat? Nie een stukkie van die koek gaan verlore met die sny en pak van die lae.

10 jumbo eiers, kamertemperatuur, geskei
470 g (2 k + 4 e) strooisuiker
15 ml (1 e) kremetart
190 ml (¾ k) sonneblom olie
250 ml (1 k) kraanwater
Knippie sout
455 g (3 k + 3 e) koekmeel
30 ml (2 e) bakpoeier
15 ml (1 e) geursel van keuse
100 ml kookwater waarin 50 ml kakao aangemaak is en afgekoel

Voorverhit oond na 160 ℃ en smeer twee ronde koekpanne met Koekpansmeer uit die Boerekos met ‘n Twist kookboek om gladde kante te verseker en koek kom mooi los. Pan afmetings 25 cm deursnit.

Klits eiergele en strooisuiker tot lig en donsig vir ongeveer 5 minute. Klits dan die olie in ‘n dun straaltjie by en maak seker die mengsel is goed deur gemeng.

Sif die droë bestanddele (behalwe kremetart) alles saam en vou om die beurt met die water by die eiergeel mengsel in.

Klits die eierwitte en kremetart saam tot sagte maar stywe punte vorm. Dit is krities met hierdie deel van die klits proses om te weet, dat as jy te veel gaan klits, die koek uitermate gaan krimp en selfs platval as dit klaar gebak het. Maak dus seker jy klits nie dat die eierwitte droë bolle vorm nie.

Gebruik ‘n ballonklitser en vou die eierwitte in by die meel-en-eiermengsel. Verdeel die beslag deur een helfte in ‘n gesmeerde pan te giet tot 2 vingers van bo…moenie kommer, hiedie beslag sal nie oorkook nie. Meng dan die kakao mengsel by die oorblywende beslag en vou in. Skep in pan en bak 40 min tot 50 by 160 ℃ tot geset.

Laat koeke 10 min in pan afkoel en keer dan uit om goed af te koel. Plaas dan die koek vir 3 ure in vrieskas. Sny elke koek in 4 lae.

Botterversiersel

200 g Margarien, “bake” soort – kamer temperatuur maar verkieslik botter.
500 g Versiersuiker
50 ml Melk
20 ml Vanielje geursel of geursel van keuse
Kleursel van keuse – voeg by soos verlang

Room die botter tot lig en donsig, voeg die versiersuiker en melk by en  klits baie goed deur totdat dit lig en romerig voorkom. Verdeel versiersel en gebruik dan donker bruin, gel voedsel kleursel, 1 druppel, om die caramel kleur te maak. Voeg rum geursel by die caramel kleur versiersel.

Haal verkoelde koeke uit die yskas. Bou lae op ‘n snybord met foelie oorgetrek.  Begin met ‘n wit laag onder vir die basis. Smeer met karamel kleur versiersel en plak dan bruin laag vas. Smeer wit versiersel en plak wit laag vas. Smeer weer caramel en plaas koek vir 2 ure in yskas.

Sny nou ‘n koepel uit die koek, deur die mes 2 cm van die rand van die koek met ‘n 45 grade hoek direk in die middel van die koek. As jy sukkel, druk ‘n sosatiestok in die middel van die koek en druk die mes skuins tot onder om die punt van die stokkie te raak en sy dan die koepel uit. Die stokkie help ook om die koepel versigtig uit te lig. Laat die koepel op sy rug rus. Smeer dan die gat met karamel versiersel en plak ‘n bruin laag koek in die holte vas. Moenie bang wees om die bruinlaag vas te druk nie. Smeer weer wit versiersel en volg met witkoek op. Smeer karamel versiersel en sit die koepel met die punt na onder weer terug. Druk stewig vas. Smeer om laag gelyk te kry en druk dan ‘n bruin laag koek vas.

Draai die koek om deur ‘n koekbord dan op die bokant van die koek te sentreer en draai dan die hele koek om. Plak dan nog twee lae koek vas. Doen ‘n naked cake effek met die kante en verkoel die koek voor finale versiersings soos klapper, blomme, koffiebone op gesit word.

Bron: Annelien Pienaar, 2018