BoereKosTwist Klets-Kombuis 15 Junie 2018

BoereKosTwist Klets-Kombuis 15 Junie 2018

Hallo Twister.

Verlede Vrydag hierdie tyd was ek tussen die hemel en die hel na narkose met ‘n nood historektomie. Nou sit ek snoesig in my kooi en kekkel met julle. Baie dankie vir al die wonderlike boodskappe en gebede, dit het my gedra deur die operasie. Ek dink as mens nie met ‘n positiewe en humoristiese uitkyk op die lewe hierdie situasie van siek wees benader, sal depressie gou jou baas wees. Soos ek hierdie week vertel het van manlief wat my spuit soos een van sy ooie en nog voor ek kan verduidelik wat hy eintlik moet doen met die bloedverdunner…soms wen mens nie! Elk geval, ek voel baie goed en gaan nie kanse neem met my gesondheid. Hierdie resiesperdjie gaan maar haar lyf esel hou vir eers. Ek wil nog vir die volgende 40 jaar lekker kan woeker sonder komplikasies weens nalatigheid.

Ek het vir julle soveel nuwe dinge wat ek beplan. Ek sien manlief het so ewe my kamera en toerusting in die kluis toegesluit want hy het my sien peuter in die ateljee. Ek moet bieg, om selfs net ‘n potjie heen en weer te dra met blomme is moeilikheid soek. Die mooiste tulpe ontvang en het ‘n foto in die kop om die prag met jul te deel…maar helaas ek sal maar moet wag tot die Filistyn van my verkas dorp toe!

Graag nooi ek julle uit om Maandagaand se episode van Boerekos met ‘n Twist met my te deel. Ek het hierdie week die laaste stem opnames gedoen vir die reeks en toe hierdie episode gesien. Diegene wat die pad nou al vir jare met my stap, sal weet dat my stilte tyd by die dam in die middae vir my amper “heilige” oomblikke is. As die son se sagte geel strale so oor die Magaliesberge krul en die westekim pers, geel, pienk wys…dan raak ek stil. Die kleure reflekteer teen die dam se water en dit tref my besige gemoed en stil die storms wat soms woed. My Filistyne is oral om my…ja selfs die honde baljaar saam om en in die dam. My koffie en koekies word ook met die krappe en vise gedeel as sussie besluit sy kry die gier. Hierdie episode van BKT word afgesluit op die plekkie waar ek gereeld op die naat van my rug gaan lê met ‘n grassie in die kies. Daardie dag met die verfilming het iets baie spesiaal gebeur. Die weer was ontstuimig en ek het die crew aangejaag want ek het geweet die storm is 30 minute ver. Hol vir die dam met die tafels, kos, piekniekmandjie en begin opslaan. Die druppels begin val, dit is donker…blou…en die donder kom al nader. Ek en my gas sit op die kombers en bespiegel of ons nie maar moet hol vir die voertuie, want weerlig is nou nie ons maat. Glo dit of nie, skielik breek daar ‘n sonstraal deur die blou donker wolke en ek sien hoe die gas se vel amper ‘n sjampanje kleurige skynsel kry…dit was so mooi…my siel so rusitg. Graag hoop ek dat julle dit met my kan beleef. Dit is die hart en siel van Annelien en die eerste keer in die reeks wat ek van my chefsklere ontslae raak en net plaasklere kan aatrek!

BoereKosTwist Vadersdag komeptisie 2018, Klik op die rooi skakel om deel te neem aan hierdie wonderlike kompetisie. My moet towerkunsies werk met hierdie resep en op die FB blad waar die link van die kompetisie gelaai is, in die comments jou foto en ook beskrywing van wat jy gedoen het sit. WAt kan jy wen? ‘n Pragtige Mason Cash produk van Orejen, ‘n Boerekos met ‘n Twist bamboes snyplank met bypassende lepel en die Jan Braai se Shisanyama kookboek. Hoe klink dit? R1 500 se waarde! Hierdie is ongelukkig net vir Suid-Afrikaanse burgers. Koerierkostes sal deur myself gedek word.

Mag hierdie naweek vir ieder en elk tot wonderlike seën wees en samesyn soos ‘n heilige oomblik tussen familie en vriende ervaar word.

Beste wense

Annelien Pienaar

2018-06-15T17:02:45+00:000 Comments

Leave A Comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.