Melkbrood met heilsame Groentesop

Melkbrood met heilsame Groentesop

Talentvolle akteur, sanger en aanbieder, Willem Botha het op die stel van Boerekos met ‘n Twist kom kuier. Hy is ‘n plaatjie en geniet die plaaslewe baie. Hy het ‘n natuurlike aanvoeling vir gesonde kos en is ‘n voorslag boerseun in die kombuis. Vandag deel ek die geheime van die Boerkos met ‘n Twist program met jou die kyker, leser en luistaar.

Ek was bederf met my ma se weergawe van haar vriendin se Amerikaanse Dinner rolls. Later toe ek brood as spesialiteitsveld kies met verdere studies het ek met nuwe oë na die resep gekyk en verstaan hoe hulle so sag kon uitkom. Suiker, melk en botter het ‘n versagtende effek op gluten. Gluten is die raamwerk van alle gebak wat gemaak word met koringmeel. Hierdie bestanddele het ook ‘n natuurlike preserverings aksie op die deeg. Moenie jou klaar gebakte, afgekoelde broodjies in plastiek dadelik verpak nie. Plaas dit in of draai dit toe in bruinpapier om die krakerige korsie behoue te laat bly. Plaas dan die volgende dag in ‘n plastiekhouer. Ek het nog ‘n broodblik van hout en ek kom agter dat die brood beter “hou” in die hout blik….sal nog navorsing doen uitvind hoekom…Maar voor ons verder ondersoek instel, laat ons bak!

Lees verder op die volgende skakel om jou eie Aftresel te kook.
Kook jou eie preserveermiddelvrye Aftreksel.

Brood resep
1 kg Koekmeel
10 g Sout
25 g Suiker
40 g Melkpoeier (enige soort, onthou egter dat koffie verromers NIE melkpoeier is nie)
65 g Botter
10 g Kits gis
1 Eier, liggies geklits
550 g Water, lou (gram en ml vir water werk dieselfde uit) Om akkuraatheid vir die resep te verseker weeg ek vir goeie resultate altyd die water. Maatbekers is nie reg gekalibreer nie.
100g bloukaas of gorgonzola (opsioneel as vulsel vir die brood bolletjies / breadshots)

Metode
1. Sif die droeë bestanddele saam en vryf die margarien met jou vingerpunte in.
2. Meng die water en eier by en meng totdat al die bestanddele goed gemeng is. Laat staan sonder om verder te knie vir 15 minute vir die deeg om sterker gluten drade te vorm. Dit vergemaklik ook die knie proses.
3. Knie die deeg vir 8 minute totdat die deeg glad en elasties is.
4. Plaas in ‘n olie gesmeerde bak met ‘n deksel wat ook gesmeer is. Maak seker die bak is groot genoeg vir die deeg om dubbel sy volume te rys. Sodra die deeg dubbeld gerys het, ongeveer 30 minute, verdeel die deeg in 30 ewe groot bolletjies.
5. Vir hotdog rolletjies: rol eers die balletjies rond uit en rol dan plat met ‘n koekroller en rol dan van een punt op soos ‘n swissroll en plaas met die naat na onder op ‘n gesmeerde bakplaat.
6. Vir bolletjies: rol rond en plaas op bakplaat. Rus 5 minute en maak holte met duim en plaas vulsel van keuse in.
7. Laat gevormde broodjie vir 30 minute rys en bestryk met eier vir ‘n mooi glans lagie. Neem een eier en ½ t sout en meng met mekaar vir die glanslaag.
8. Bak die broodjies vir 25 minute by 200℃
9. ‘n Wenk wat ek altyd gee vir ‘n ekstra sagte buite korsie vir kleiner broodjies is om ‘n vlek vryestaal bakkie onder in die oond te sit as dit voorverhit. Sodra die broodjies in die oond is plaas 5 blokkies ys in die pannetjie om stoom te produseer vir die eerste 8minute. As jy sien die ys is klaar voeg nog drie blokkies by. Sodra die broodjies uit kom, spuit dit met melk. Plaas melk in ‘n spuit kannetjie en spuit met ‘n baie fynsproei.
10. Laat goed afkoel. Stoor die broodjies in bruinpapiersakkies vir die eerste dag en daarna in die papiersakkie binne ‘n plastiek sak om uitdroog te voorkom maar varsheid te behou.

Hoeveelheid: 30 rolletjies of 2 lang brode wat elk 15 snye lewer.

Groente sop
2 liter aftreksel
4 e olyfolie
3 uie grof gekap
6 seldery stingels, gensy
2 rooi soetrissies, fyn gekap
2 geel soetrissies, fyn gekap
6 wortels, gerasper
1 botterskorsie (butternut)
6 murgpampoentjies (baby marrows)
4 medium aartappels, in blokkies, geskil
4 k gaar sop mengsel (Soup mix by kettingwinkel se graan afdeling)

Braai ui vir ‘n min in olyfolie. Voeg seldery by en roerbraai weer. Voeg wortels by en braai vir 2 min. Daarna voeg al die bestanddele by en kook vir 30 minute totdat die sop verdik het.

Span die prut pot in (Slowcooker) met ‘n gaarmaak tyd van 6 ure op low of 3 ure op high.

Bedien dadelik met warm broodjies.

Bron: Annelien Pienaar

2018-06-12T14:35:22+00:00 4 Comments

4 Comments

  1. scrapbox.utopia June 12, 2018 at 8:32 am - Reply

    Dankie Annelien, gaan beslis probeer!❤️❤️❤️

    • Annelien June 12, 2018 at 2:16 pm - Reply

      Geniet hoor.

  2. TRUDIE GELDENHUYS June 13, 2018 at 10:10 am - Reply

    Dit het baie lekker geklink om Pretoria FM, ons maak dit vandag nog.

    • Annelien June 15, 2018 at 9:25 am - Reply

      Trudie,

      Baie dankie dat jy saam geluister het. BKT groete Annelien

Leave A Comment