Ons het groot geword met my ma se fyn gebak en een van die happies wat sy so keurig en presies kon maak was Florentyntjies. Dit laat my dink aan ‘n kruising tussen ‘n brandy snap en ‘n crunchie…maar lekker bly dit lekker. Soms kap ek die koekies fyn en gebruik dit as ‘n krummel laag op roomys of selfs muffins…die gebruike is legio. Ek bak soms die balletjies individueel in kolwyntjie panne vir ‘n meer sagter en dikker koekie. Of soos meeste dit ken, ‘n balletjie wat dan self plat loop op ‘n bakplaat. Kom ons begin!
125g Botter, moet botter wees asb
150g Wit suiker
50ml Goue stroop
70g Koekmeel
110g Gemengde sitrus skil of kan met korente vervang word
150g Amandel vlokkies
110g Gekapte glans kersies
5ml Vanielje
150g Donker sjokolade
Smelt die botter, suiker en stroop saam en laat dit op kook. Verwyder van die hitte en voeg die koekmeel, geursel, vrugte en neute by en roer goed deur.
Skep 5ml hopies ongeveeer 5cm uit mekaar op ‘n gesmeerde bakplat. Onthou hierdie koekie versprei en loop letterlik die wêreld vol as jy nie versigtig is nie.
Bak dan 10-15 minute by 160℃. By die tien minute merk moet jy asb by die oond deur staan en soos ‘n broeis hen oppas. Die kanse vir brand op hierdie tydstip is amper 100% gewaarborg. Hou dop!!!!
Koekies wat taai is en nie bros het nie lank genoeg gebak nie, sit dit terug en bak weer. Jy kan die koekies plat druk as daar neute en dele is wat opstaan en nie mooi lyk.
Smelt die sjokolade en drup op die koekies. Stoor die koekies in die yskas of vrieskas in lugdigte houer.
Bron: Annelien Pienaar, 2015, Bak en kook klasse: epos adres: boerekostwist@gmail.com
Hoeveelheid: 40-50 5ml scoops