Verskil tussen Kits- en Gisbeskuit

Verskil tussen Kits- en Gisbeskuit

Wat is die verskil tussen Kits-, Suurdeeg- en Gis beskuit? Die verskille kom in by die tipe rysmiddels wat gebruik word.

Kitsbeskuit
Hierdie tipe beskuit word met bakpoeier en of koeksoda gebak (‘n chemiese rysmiddel). Soms vra die resep vir Bruismeel en hierdie meel bevat reeds sy eie rysmiddel. Bruismeel kan self gemaak word en die beskuit wat sonder bruismeel gebak word met dit wat jy self maak…rys baie beter.

Nou in Kitsbeskuit resepte sal jy altyd ‘n suur vind in die vorm van Karringmelk of Joghurt. Hierdie suur is die sneller of katalisator om ‘n chemiese reaksie aan die gang te sit. Dus, begin die rysmiddel om te werk. Hierdie beskuit word dadelik gebak, glad nie nodig dat dit moet uitrys soos in die geval van Gis of Suurdeeg beskuit.

Wanneer ons met Kitsbeskuit werk is die hele geheim om NIE die deeg te ontwikkel met ‘n geknie nie. Nee, die tekstuur van die deeg kan nog kolle meel wys voordat dit in die pan gedruk word en verder moet dit klonterig vertoon. Onthou dat die deeg elke keer wat jy dit hanteer die gluten ontwikkel en dit wil ons vermy. So, hoe gemaak? Meng vooraf al die droë bestanddele goed deur en maak ‘n holte in die meel. Meng al die vloeistowwe saam en giet in die holte. Meng dan met deeg skraper of groot houtlepel totdat jy voel jou arm wil nou nie meer en jy wil begin met die hand meng. Druk dan net liggies met vingers aan mekaar, onthou daar kan nog effens meel wys.

Keer die deeg uit op ‘n gesmeerde pan. Druk plat met vingerpunte, onthou hier is nog verdere hantering en die deeg ontwikkel. Jy soek ‘n sagte bros beskuit, nie hard en taai. Indien jy ‘n beskuit pan stel het met die drukker kan jy dan die snitte maak deur die drukker oor die pan te plaas en hard af te druk, lug uit en plaas eenkant. Die deeg bevat genoeg smeer en daarom is dit nie nodig om die drukker te olie nie.

Ek het al baie navrae gehad oor die indruk van die beslag in die panne. Jy kan vir jou ‘n PVC stuk pyp laat sny wat die breedte van jou pan is…net voor jy die drukker in die deeg druk kan jy gelyk maak. Maar ek stel altyd voor om ‘n stukkie kleef plastiek op die deeg te sit en dan te rol. Maar asb, moenie te veel rol of perfek rol nie, die drukker maak die deeg self meer gelyk.

Daarna word die beskuit sonder die drukker gebak. Sodra die beskuit klaar gebak en goed afgekoel het…sny die beskuit vingers met ‘n groente messie binne in die panne en droog.

Maak van eie Bruismeel
10 ml Bakpoeier : 2.5 ml Koeksoda : 2.5 ml Kremetart : 2k (280 g) Koekmeel

Sif 3 keer saam en gebruik dadelik.

Links na resepte:
Semel karringmelk beskuit (gratis)

Wit karringmelk bolletjie beskuit

Growwe karringmelkbeskuit met ‘n les

Gis- en Suurdeeg beskuit
Beide van hierdie tipes beskuit word met ‘n vorm van ‘n biologiese rysmiddel gemaak. Die ooreenkomste is die feit dat die deeg deur min of meer dieselfde stappe gaan en in hierdie geval word die deeg oorwerk en geknie in teenstelling met Kitsbeskuit wat met bakpoeier en koeksoda gemaak word.

Die deeg word geknie tot baie glad en dan warm gehou om te verdubbel in volume. Daarna word die deeg afgeknie en dan verdeel in bolletjies om dan in brood panne te rys tot weer dubbel die volume. Daarna word die deeg gebak. Die beskuit koel af en word dan per hand uitmekaar geskeur en gedroog. Die tekstuur lyk soos vere of hoender vleis wat repies maak. Hierdie beskuit neem baie lank om te maak en is baie arbeids intensief.

Maak seker dat jou panne met die bolletjies halfpad vol gevul is. Die beskuit moet dan tot een vinger onder die rand rys…daarna kan jy bak. Onthou hierdie is ‘n biologiese rysmiddel wat moedernatuur vir ons gee. Sy is temprameteel en gaan dus in die somer vinnger rys en in die winter stadiger. Hou haar gelukkig en jy eet heerlik!

Link na resep
Soetmos beskuit met variasie vir Anysbeskuit

Bron: Annelien Pienaar, 2018

2018-05-17T19:15:21+00:00 2 Comments

2 Comments

  1. Jenny pretorius May 18, 2018 at 6:22 pm - Reply

    Was vir kolonscopy en gastroscopy, dr se ek moet wegbly van koek,pizza, brood ensv. Iets van gluten wat buik opswel, ook te feel antiflammatoriese pille gedrink, metv2vskoueroperasies. Wat stel jy voor asb. Wst moet ek eet en wat nie, ek eet gewoonlik baie baie klein porsies?

    • Annelien May 18, 2018 at 7:01 pm - Reply

      Eerstens moet jy iets soos ‘n Super Acydophillys koop…dit is ‘n sterk intestinale flora. Effe duur maar puik. Ek gebruik Fit Health sin. Punt is jy moet die goeie mikrobes in jou ingewande eers herstel en instand hou. DAn moet jy alle suurvoedsels vermy en goed wat gasse kan veroorsaak. Gluten mag die dermwande irriteer asook goed soos vesels soos semels. Ek stel voor indien jy regtig sukkel om ‘n dieetkunde te gaan sien. Begin nou en herstel die flora in jou maag en dermkanaal. Beste wense en sterkte…Annelien

Leave A Comment